1. ’n Swaar hongersnood het weer die land getref, soos in die tyd van Abraham. Daarom het Isak verskuif na Gerar waar Abimelek, die koning van die Filistyne, gewoon het.
2. Daar verskyn die Here aan Isak en sê: “Moenie Egipte toe gaan nie. Bly hier waar Ek vir jou sê.
3. Bly in hierdie land as ’n uitlander. Ek sal met jou wees en jou seën. Ek sal hierdie hele land aan jou en jou nageslag gee, soos Ek aan jou pa, Abraham, beloof het.
4. Ek sal jou nageslag so ontelbaar maak soos die sterre in die lug. Ek sal die hele land aan hulle gee. Jou nageslag sal die draer wees van seën vir al die nasies op die aarde.
5. Ek sal dit doen omdat Abraham na My geluister het en gehoorsaam was aan al my vereistes, bevele, voorskrifte en gebooie.”
6. Isak het dus in Gerar gebly.
7. Toe die inwoners navraag doen oor Rebekka, sê hy: “Sy is my suster.” Hy was bang hulle sal hom dalk doodmaak as hulle weet dis sy vrou, want Rebekka was baie mooi.
8. Na hulle al ’n tyd lank daar gebly het, het Abimelek, die koning van die Filistyne, eendag deur die venster gesien hoe Isak vir Rebekka liefkoos.
9. Abimelek het Isak laat roep en sê vir hom: “Sy is dan jou vrou! Hoekom het jy gesê sy is jou suster?”“Dis omdat ek bang was iemand maak my dood om haar in die hande te kry,” antwoord Isak.
10. “Hoe kon jy dit aan ons doen?” sê Abimelek. “Iemand kon maklik jou vrou geneem en by haar geslaap het. Dan sou jy skande oor ons gebring het!”
11. Abimelek het toe in die openbaar gewaarsku: “Enigeen wat hierdie man of sy vrou kwaad aandoen, sal met die dood gestraf word.”
12. Daardie jaar het Isak ’n baie groot oes gehad. Hy het honderd maal meer geoes as wat hy geplant het, want die Here het hom geseën.
13. Hy het baie ryk geword en sy rykdom het aanhou vermeerder.
14. Hy het groot troppe kleinvee en beeste gehad en baie slawe. Die Filistyne het daaroor jaloers geword op hom.