Psalms 139 Bybel vir Almal (ABA)

U moet my lei op die pad na U toe

1. Vir die leier van die koor: Van Dawid. ’n Psalm.Here, U het tot diep in my gekyk,U ken my baie goed.

2. U weet alles wat ek doen, net U weet dit,U is ver, maar U weet wat ek dink.

3. U weet hoe ver ek loop en hoe lank ek slaap.U weet wat ek doen, oral waar ek gaan.

4. Ja, Here, ek het nog nie begin om iets te sê nie,dan weet U klaar alles wat ek wil sê.

5. U is agter my en U is voor my,U hand beskerm my.

6. Ek verstaan nie hoe U alles weet nie,dit is vir my baie moeilik, ek kan dit nie verstaan nie.

7. Waarnatoe kan ek gaan waar U nie is nie?Waarnatoe kan ek wegvlug van U?

8. As ek opklim na die hemel, dan sal U daar wees.As ek in die doderyk my slaapmat oopgooien gaan lê, dan sal U dáár ook wees.

9. As ek ver na die ooste vliegof as ek ver in die weste gaan woon,

10. dan sal U ook dáár vir my lei en my vashou.

11. As ek sê die donker moet my toemaak,die lig rondom my moet donker word,

12. dan is dit nie donker vir U nie.Vir U is die nag so lig soos die dagen donker is vir U soos lig.

13. Ja, dit is U wat my gemaak het,’n mens wat kan voel en dink.U het my hele liggaam gemaak voordat ek gebore is.

14. Ek wil vir U dankie sê, want ek word bangwanneer ek sien hoe wonderlik U my gemaak het.Alles wat U doen, is wonderlik,ek weet dit baie goed.

15. U het geweet van elke been in my liggaamtoe U my gemaak het waar niemand dit gesien het nie,toe U my gemaak hetin die liggaam van my ma.

16. U het my gesienvoordat ek gebore is.Ek was nog nie een dag oud nie,toe het U klaar in u boek geskryf hoe lank ek sal lewe.

17. O God, die dinge waaraan U dink,is vir my baie moeilik, ek kan dit nie verstaan nie,en U dink aan so baie dinge.

18. As ek dit alles probeer tel,dan is dit meer as sand,en wanneer ek geslaap het en wakker word,dan dink ek nóg aan U.

19. O God, ek bid dat U die mense moet doodmaakwat verkeerd doen.U moet die moordenaars laat weggaan van my.

20. Hulle is u vyande,hulle sê slegte dinge teen U,en hulle is opstandig teen U.

21. Ek haat die mense wat vir U haat,ek hou niks van mense wat opstandig is teen U nie.

22. Ek haat hulle met my hele hart,hulle is my vyande.

23. O God, U moet diep in my kyk,U moet weet wat binne-in my hart is,U moet my toets,U moet weet wat ek dink.

24. En U moet help dat ek nie so lewedat ek seerkry nie,U moet my lei op die pad na U toe.