2 Samuel 19:12-32 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. Julle is my broers; my been en my vlees is julle: waarom sou julle dan die laastes wees om die koning terug te bring?

13. En vir Amása moet julle sê: Is jy nie my been en my vlees nie? Mag God so aan my doen en so daaraan toedoen as jy nie al die dae leërowerste voor my in die plek van Joab sal wees nie!

14. So het hy dan die hart van al die manne van Juda sonder uitsondering geneig, sodat hulle die koning laat weet het: Kom terug, u met al u dienaars.

15. Daarop het die koning teruggegaan en by die Jordaan aangekom; en Juda het na Gilgal gekom om die koning tegemoet te gaan, om die koning oor die Jordaan te bring.

16. En Símeï, die seun van Gera, die Benjaminiet, wat uit Bahúrim was, het hom gehaas en saam met die manne van Juda afgekom om koning Dawid te ontmoet,

17. en duisend man uit Benjamin was saam met hom; verder Siba, die dienaar van Saul se huis, met sy vyftien seuns en sy twintig slawe saam met hom; en hulle het voor die koning al die Jordaan bereik.

18. En die pont het heen en weer gevaar om die huis van die koning oor te bring en te doen wat goed was in sy oë. En Símeï, die seun van Gera, het voor die koning neergeval toe hy die Jordaan sou oortrek

19. en aan die koning gesê: My heer moet my die skuld nie toereken en daar nie aan dink hoe u dienaar verkeerd gehandel het op die dag dat my heer die koning uit Jerusalem uitgetrek het, deurdat die koning dit ter harte sou neem nie.

20. Want u dienaar weet dat ék gesondig het; maar soos u sien, vandag het ek die eerste van die hele huis van Josef afgekom om my heer die koning tegemoet te gaan.

21. Toe het Abísai, die seun van Serúja, geantwoord en gesê: Moet Símeï nie hieroor gedood word, dat hy die gesalfde van die Here gevloek het nie?

22. Maar Dawid sê: Wat het ek met julle te doen, seuns van Serúja, dat julle vandag my teëstanders word? Sou iemand vandag in Israel gedood word? Want weet ek dan nie dat ek vandag koning oor Israel is nie?

23. Daarop sê die koning aan Símeï: Jy sal nie sterf nie. En die koning het vir hom gesweer.

24. Mefibóset, die kleinseun van Saul, het ook afgekom die koning tegemoet, en hy het sy voete nie skoongemaak en sy baard nie geskeer en sy klere nie gewas van die dag af dat die koning weggegaan het tot op die dag dat hy behoue teruggekom het nie;

25. en toe hy in Jerusalem die koning tegemoetkom, sê die koning vir hom: Waarom het jy nie met my saamgetrek nie, Mefibóset?

26. En hy antwoord: My heer die koning, my dienaar het my bedrieg; want u dienaar het gedink: Ek wil vir my die esel laat opsaal, dat ek daarop kan ry en met die koning kan saamtrek, want u dienaar is lam.

27. Hy het ewenwel u dienaar by my heer die koning belaster, maar my heer die koning is soos ’n engel van God: doen dan wat goed is in u oë.

28. Want my hele familie was by my heer die koning niks anders as manne wat die dood verdien nie; tog het u u dienaar opgeneem onder die wat aan u tafel eet: watter regsaanspraak het ek dan nog meer om my verder op die koning te beroep?

29. Toe sê die koning vir hom: Waarom nog meer woorde? Ek sê: Jy en Siba moet die grond verdeel.

30. En Mefibóset het die koning geantwoord: Hy kan ook alles neem nadat my heer die koning behoue in sy huis gekom het.

31. Barsíllai, die Gileadiet, het ook afgekom van Rógelim en met die koning oor die Jordaan getrek om hom oor die Jordaan weg te bring.

32. En Barsíllai was baie oud, ’n man van tagtig jaar, en hy het die koning onderhou gedurende sy verblyf in Mahanáim, want hy was ’n baie vermoënde man.

2 Samuel 19