15. Die koning van die noorde sal dan kom en een van die versterkte vestings beleër. Hy sal dit inneem. Die mag van die koning van die suide sal hom nie kan teenstaan nie. Selfs sy beste manskappe sal hom nie kan keer nie.
16. “Die koning van die noorde sal oorwinnend opmarsjeer en niemand sal hom kan stuit nie. Hy sal opruk na die mooi land van Israel om dit te vernietig.
17. Hy sal dan besluit om op die sterkte van die mag van sy koninkryk met die koning van die suide ’n ooreenkoms te sluit. Hy sal hom met een van sy vroue se dogters laat trou om hom onderdanig te hou. Die plan sal egter nie vir hom uitwerk nie.
18. “Hy sal ook besluit om groot kusgebiede te verower. ’n Ander leier sal egter ’n stokkie voor sy planne steek en hy sal onverrigter sake moet teruggaan.
19. Hy sal terugkeer na die vesting in sy land. Hy sal egter daar van sy troon gestoot word en tot ’n val kom. Hy sal van die toneel verdwyn.
20. “Sy opvolger sal ’n afgevaardigde stuur om belasting te hef vir die onderhoud van die koninkryk. Hy sal egter na ’n kort tydjie sterf, maar nie deur geweld of deur oorlog nie.
21. “In sy plek sal ’n aanstootlike persoon koning word wat nie uit die koningsgeslag is nie. Hy sal ongemerk insluip en met omkopery die mag oorneem.
22. Sterk leërmagte sal voor hom weggevee en vernietig word, selfs ’n leier met wie hy ’n ooreenkoms het.
23. Hy sal deur bedrog ooreenkomste sluit. Met slegs ’n handjievol ondersteuners sal hy sterk word.
24. Hy sal stil-stil in die ryk gebiede van die land kom en iets doen wat sy voorouers en hulle voorouers nooit gedoen het nie: hy sal hierdie gebiede roof en plunder. Hy sal planne beraam teen vestings, maar dit sal net vir ’n tydjie aanhou.
25. “Dan sal hy gereedmaak en met ’n sterk leër teen die koning van die suide optrek. Die koning van die suide sal ook ’n baie groot en sterk weermag teen hom op die been bring. Hy sal egter nie teen hom opgewasse wees nie, want daar is ’n slim plan teen hom beraam.
26. Sy eie mense sal hom doodmaak. Sy manskappe sal oorweldig word en baie van hulle sal omkom.
27. Die twee konings sal vol listige planne om een tafel sit en mekaar bedrieg. Hulle planne sal egter nie slaag nie, want hulle einde is klaar bepaal.
28. “Die koning van die noorde sal met groot rykdom terugkeer na sy land toe. Op pad terug sal hy egter optree teen die mense van God se verbond.
29. “Op die bepaalde tyd sal hy weer terugkom en teen die suide opruk. Dit sal hierdie keer egter nie soos die eerste keer wees nie.
30. Oorlogskepe uit die westelike seegebiede sal teen hom uitvaar en hy sal bang word en omdraai huis toe. Hy sal sy woede uithaal op die mense van God se verbond. Hy sal hulle beloon wat hulle rug op God se verbond gedraai het.