2. Een namiddag, nadat hy gerus het, het Dawid opgestaan en op die dak van die paleis rondgeloop. Van die dak af sien hy ’n besonder mooi vrou wat besig was om te bad.
3. Hy stuur toe iemand om uit te vind wie sy is. “Dis Batseba, die dogter van Eliam en vrou van Urija die Hetiet,” verneem hy.
4. Dawid het haar laat haal. Sy het so pas die reinigingsrituele na haar maandstonde voltooi. Sy het na die paleis toe gekom en hy het by haar geslaap. Daarna het sy teruggegaan na haar huis toe.
5. Toe sy later agterkom dat sy verwag, stuur sy vir Dawid ’n boodskap: “Ek is swanger.”
6. Dawid het vir Joab laat weet: “Stuur Urija die Hetiet na my toe.” Joab het so gemaak.
7. Toe Urija by Dawid kom, vra hy hoe dit met Joab en die leër gaan en hoe die oorlog verloop.
8. Toe sê hy vir Urija: “Gaan gerus huis toe en rus ’n bietjie.” Dawid het selfs ’n geskenk agter Urija aan gestuur nadat hy die paleis verlaat het.
9. Maar Urija wou nie huis toe gaan nie. Hy het die nag by die ingang van die paleis geslaap by die slawe van die koning.
10. Dawid het gehoor dat Urija nie huis toe gegaan het nie. Hy vra toe vir Urija: “Wat is verkeerd met jou? Hoekom het jy nie laas nag huis toe gegaan nadat jy so lank weg was nie?”
11. Urija antwoord: “Die ark en die leër van Israel en Juda oornag in tente, en Joab en u manskappe kampeer in die oop veld. Hoe kan ek dan huis toe gaan om te eet en te drink en by my vrou te slaap? So waar as u leef, ek sal nie so iets doen nie.”
12. “Bly vannag nog hier,” sê Dawid vir hom. “Môre stuur ek jou terug.” Urija het toe daardie dag en die volgende dag in Jerusalem gebly.
13. Dawid nooi hom toe om saam met hom te kom eet en drink. Hy het hom dronk gemaak, maar selfs toe het hy nog nie huis toe gegaan nie, maar weer by die ingang van die paleis by die koning se slawe geslaap.
14. Die volgende oggend skryf Dawid ’n brief aan Joab en stuur dit saam met Urija.
15. Die brief het gelui: “Plaas Urija op die voorpunt waar die geveg op sy hewigste is. Val dan terug sodat hy kan sneuwel.”
16. Joab was besig om die stad te beleër. Hy het vir Urija op ’n plek gesit waar hy geweet het die stryd is vel.
17. Die verdedigers het uitgekom om teen Joab te veg. Verskeie van Dawid se soldate het gesneuwel, ook Urija die Hetiet.