26. Jy moet die bors van die inwydingsram van Aharon vat en dit waai as waaioffer voor die Teenwoordigheid van יהוה; dit sal jou deel wees.
27. Jy moet van die inwydingsram, die bors van die waaioffer wat gewaai is en die boud van die opligoffer wat opgelig is, afsonder; dit wat vir Aharon is en dit wat vir sy seuns is.
28. Dit sal vir Aharon en sy seuns hulle porsie wees as ’n ewige instelling van die kant van die kinders van Yisra’el af, want dit is ’n opligoffer en dit sal ’n opligoffer wees van die kant van die kinders van Yisra’el, vanuit hulle vredesoffers; hulle opligoffer aan יהוה.
29. Die afgesonderde klere van Aharon sal sy seuns s’n wees na hom, om hulle daarin te salf en hulle hande daarin te bevestig (aan te stel).
30. Die seun wat in sy plek priester word, wat in die Tent van Ontmoeting sal ingaan om in die Afgesonderde plek te bedien, moet dit sewe dae lank aantrek.
31. Jy moet die inwydingsram vat en sy vleis in die Afgesonderde plek kook
32. en Aharon en sy seuns moet die ram se vleis en die brood wat in die mandjie is, by die ingang van die Tent van Ontmoeting eet.
33. Hulle moet dié dinge eet waarmee versoening bewerk is toe hulle hande bevestig is en hulle afgesonder is, maar iemand anders mag nie daarvan eet nie, want dit is afgesonder.
34. As daar van die vleis van die inwydingsoffer of van die brood tot die oggend toe oorbly, moet jy dit wat oor is, met vuur verbrand; dit mag nie geëet word nie, want dit is afgesonder.
35. So moet jy met Aharon en sy seuns doen, net soos Ek jou beveel het. Sewe dae lank moet hulle hande bevestig word.
36. Jy moet daagliks ’n bul as sondoffer offer tot versoening. Jy sal die altaar reinig wanneer jy daarvoor versoening doen en jy moet dit salf om dit af te sonder.
37. Sewe dae lank moet jy versoening doen vir die altaar en dit afsonder. Die altaar sal heeltemal afgesonder wees en alles wat aan die altaar raak, is afgesonder.
38. Dit is wat jy, dag vir dag, sonder ophou, op die altaar moet offer: twee jaaroud lammers.
39. Die een lam moet jy in die oggend offer en die ander lam moet jy in die aand offer.
40. Saam met die een lam moet daar ’n tiende van ’n efa meel, gemeng met ’n kwart hin uitgestampte olie en ’n kwart hin wyn as ’n drankoffer wees.
41. Die ander lam moet jy in die aand offer en saam met dit die graanoffer en die drankoffer soos in die oggend, tot ’n aangename geur, ’n offer met vuur tot יהוה.
42. Hierdie moet ’n voortdurende brandoffer wees vir julle geslagte, by die ingang van die Tent van Ontmoeting, voor die Teenwoordigheid van יהוה, waar Ek jou sal ontmoet om met jou te praat.