28. Toe laat die Here die donkie deur ’n wonderwerk met Bileam praat. “Dit is nou al die derde keer dat jy my so slaan,” het die donkie skielik vir Bileam gesê. “Wat het ek aan jou gedoen om dit te verdien?”
29. “Jy hou my vir die gek,” het Bileam gesê, “as ek ’n swaard by my gehad het, het ek jou net hier doodgemaak!”
30. Toe vra die donkie vir Bileam: “Is ek nie dieselfde donkie waarop jy nog altyd gery het nie? Het ek al ooit voorheen so met jou gemaak?”“Nee,” moes Bileam erken.
31. Die Here maak toe Bileam se oë oop en hy het die Engel van die Here met sy groot swaard daar in die pad sien staan. Toe buig Bileam voor die Engel.
32. Die Engel van die Here vra toe vir hom: “Waarom het jy jou donkie nou al drie keer geslaan? Ek het jou juis kom voorkeer, want jy is op pad na jou ondergang toe.
33. Ek het drie maal voor jou kom staan; daarom het die donkie elke keer uitgedraai. As hy dit nie gedoen het nie, het Ek jou beslis doodgemaak. Maar die donkie sou Ek laat leef het.”
34. Bileam sê toe vir die Engel van die Here: “Ek is jammer oor wat ek gedoen het. Dit was verkeerd. Ek het nie besef U staan voor my in die pad nie. Ek sal omdraai as U nie wil hê ek moet verder gaan nie.”
35. Toe sê die Engel van die Here vir hom: “Nee, gaan saam met hierdie mense, maar jy mag net sê wat Ek vir jou sê, niks anders nie.”Bileam is toe verder saam met Balak se boodskappers.
36. Toe koning Balak hoor dat Bileam op pad is, is hy reguit na hom toe. Hulle het mekaar raakgeloop by ’n Moabitiese stad langs die Arnonrivier op die grens van sy gebied.
37. “Hoekom het jy nie gekom toe ek jou die eerste keer laat roep het nie?” het Balak vir Bileam gevra. “Het jy gedink ek sou jou nie goed genoeg betaal nie?”
38. Bileam het geantwoord: “Ek is mos nou hier. Maar onthou, ek kan niks uit my eie sê nie. Ek kan net sê wat God my toelaat om te sê.”
39. Bileam is saam met Balak daar weg na Kirjat-Gusot toe.
40. Daar het die koning beeste en skape as offers laat slag en vir Bileam en al die belangrike mense wat by hom was van die vleis gegee.
41. Die volgende oggend het Balak vir Bileam teen die hoogtes van Bamot-Baäl laat uitklim. Toe Bileam van daar af kyk, het hy ’n gedeelte van die Israeliete gesien.