2 Samuel 15:15-29 Die Boodskap (DB)

15. Hulle het vir die koning gesê: “Ons sal doen wat u sê, U Majesteit. Ons staan by u.”

16. Die koning is te voet uit die stad uit en al sy mense is agter hom aan. Hy het net tien van sy haremvroue in die paleis gelos om die plek op te pas.

17. Toe die koning uit die stad gaan, is al sy eie manskappe ook agterna. By die laaste huis het die koning en sy mense gaan staan.

18. Al die koning se eie soldate en sy hele lyfwag het voor hom verbygegaan. Die 600 man uit Gat wat by hom aangesluit het, het ook voor hom verbygegaan.

19. Hy sê toe vir Ittai, die leier van die manne van Gat: “Hoekom gaan jy ook saam met ons? Gaan terug en bly by die nuwe koning. Jy kom uit ’n ander land en jy kan nie na jou eie plek toe teruggaan nie.

20. Jy is maar ’n kort rukkie by ons en nou moet jy al weer oral rondtrek saam met ons. Ek weet nie eens waar ek heengaan nie. Laat jou mense teruggaan. Ek hoop dit gaan baie goed met jou.”

21. Maar Ittai sê vir die koning: “Ek bly by u, my koning, so waar as die Here leef, en so waar as u leef. Waar u is, of dit nou in die lewe of in die dood is, sal ek ook wees.”

22. “Goed,” sê Dawid, “bly dan maar by ons.”Ittai, die man uit Gat, en al sy manskappe met hulle vroue en kinders het toe by Dawid-hulle gebly.

23. Die hele omgewing se mense het hardop gestaan en huil toe al Dawid se manskappe so verbytrek. Die koning is toe self ook saam met sy mense deur Kidronspruit in die rigting van die woestyn.

24. Sadok en al die Leviete was ook in die groep. Hulle het die verbondsark van God by hulle gehad en dit op ’n plek neergesit waar Abjatar offerdiere verbrand het totdat almal wat saam met Dawid gegaan het, uit die stad was.

25. Die koning sê toe vir Sadok: “Vat die ark van God terug stad toe. Miskien sal die Here vir my goed wees en my laat terugkom sodat ek die ark en die plek waar hy staan, weer sal sien.

26. As die Here besluit Hy wil my nie meer hê nie, is dit goed so. Hy kan dan maar met my maak wat Hy wil.”

27. Dawid het ook vir die priester Sadok gesê: “Jy moet sake vir my dophou. Gaan rustig terug stad toe saam met Abjatar en julle twee seuns Agimaäs en Jonatan.

28. Ek sal by die deurgaanplekke in die Jordaanvallei wag totdat julle vir my laat weet wat aangaan.”

29. Sadok en Abjatar het die verbondsark van God teruggevat Jerusalem toe en daar gebly.

2 Samuel 15