Matteus 13:17-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. Dít verseker Ek julle, baie profete en godvresende mense het begeer om te sien en te hoor wat julle sien en hoor, maar dit was hulle nie beskore nie.

18. “Luister julle nou wat die gelykenis van die saaier beteken:

19. Hulle by wie die saad op die voetpad gesaai is, is elkeen wat die boodskap van God se koningsheerskappy hoor, maar dit nie begryp nie. Die Bose kom en roof wat in hulle harte gesaai is.

20. Hulle by wie op klipperige grond gesaai is, is die mense wat die boodskap hoor en dit dadelik met blydskap aanneem.

21. Maar hulle wortels gaan nie diep nie en hulle hou net vir ’n rukkie. Sodra daar swaarkry of vervolging ter wille van die boodskap kom, struikel hulle in hulle geloof.

22. Daardie mense by wie tussen die dorings gesaai is, is hulle wat die boodskap hoor, maar die bekommernis van hierdie lewe en die verleidelikheid van die rykdom verstik die boodskap en dit bly sonder vrug.

23. Hulle by wie op die goeie grond gesaai is, is dié wat die boodskap hoor en verstaan. Hulle dra vrug en bring ’n oorvloedige oes voort: 100 of 60 of 30 maal soveel as wat oorspronklik gesaai is.”

24. Hy het ’n ander gelykenis aan hulle voorgehou met die woorde: “God se koningsheerskappy kan vergelyk word met ’n man wat goeie saad op sy land saai.

25. Maar een nag, terwyl die mense geslaap het, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn.

26. Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, verskyn terselfdertyd ook die onkruid.

27. Die slawe van die boer kom toe en sê vir hom: ‘Meneer, u het tog goeie saad op u land gesaai. Waar kom die onkruid dan vandaan?’

28. “‘Dis ’n vyand se werk!’ het hy uitgeroep. “‘Moet ons die onkruid gaan uittrek?’ vra sy slawe hom.

29. “Maar hy antwoord: ‘Nee, dalk trek julle die koring saam uit wanneer julle die onkruid in bondels uittrek.

30. Laat albei saam groei tot oestyd. Dan sal ek vir die mense wat oes, sê: ‘Maak eers die onkruid bymekaar. Bind dit dan in bondels vas om verbrand te word. Maar bring die koring bymekaar in my skuur.’”

31. Hier is nog ’n gelykenis wat Hy vir hulle vertel het: “God se koningsheerskappy is soos ’n mosterdsaad wat iemand in sy tuin geplant het.

32. Dit is die kleinste van alle saadsoorte, maar as dit groei, word dit groter as al die ander plante in die tuin. Dit word so ’n groot boom dat die voëls in sy takke kan kom nesmaak.”

33. Hy het ook die volgende gelykenis vir hulle vertel: “God se koningsheerskappy is soos suurdeeg wat ’n vrou gebruik het om brood te bak. Al het sy net ’n bietjie suurdeeg in ’n groot baksel meel ingewerk, het dit uiteindelik alles deursuur.”

Matteus 13