Matteus 12:19-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

19. Hy sal nie met mense stry of ’n groot lawaai maak nie.Hy sal nie sy stem in die openbaar verhef nie.

20. Hy sal dié wat reeds geknak is, nie nog verder verbrysel nieen die vonkie hoop wat nog oorgebly het,sal Hy nie uitblus nie,totdat Hy my besluit laat seëvier.

21. Ja, op Hom sal die nasies hulle hoop vestig.”

22. Hulle het ’n man na Hom toe gebring in wie daar ’n duiwelse gees was. Die man was blind én stom. Jesus het hom gesond gemaak sodat hy kon sien en ook kon praat.

23. Die hele menigte was verstom en het gesê: “Is Hy nie dalk tog die Seun van Dawid, die Messias, nie?”

24. Toe die Fariseërs egter van die wonder hoor, het hulle geskimp: “Geen wonder dat Hy duiwels kan uitdryf nie. Hy kry sy krag immers van Beëlsebul, die baasduiwel.”

25. Jesus het egter hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: “Enige koninkryk wat teen homself verdeeld is, gaan ten gronde. En geen dorp of huis wat teen homself verdeeld is, sal bly staan nie.

26. As Satan Satan uitdryf, is hy mos teen homself verdeeld. Hoe sal sy koninkryk dan kan staande bly?

27. En as Ek met die krag van Beëlsebul die duiwels uitdryf, met wie se hulp doen julle volgelinge dit dan? Daarom sal hulle julle regters wees.

28. “Maar as dit die Gees van God is wat My in staat stel om die duiwels uit te dryf, moet julle besef dat die koningsheerskappy van God nou by julle is.

29. Dis tog onmoontlik vir iemand om in ’n sterk man se huis in te gaan en hom van sy goed te beroof as hy daardie sterk man nie eers vooraf vasgebind het nie. Eers dan sal hy sy huis kan beroof.

30. “Wie nie aan my kant is nie, is teen My. En elkeen wat nie saam met My bymekaarmaak nie, jaag mense uitmekaar.

31. “Dít verseker Ek julle: God sal elke sonde of lastering vergewe, maar lastering teen die Heilige Gees sal Hy nie vergewe nie.

32. Enigiemand wat iets teen My, die Seun van die Mens, sê – dit sal daardie persoon vergewe word. Maar wie die Heilige Gees belaster, sal nooit vergewe word nie, nie in hierdie wêreld nie en ook nie in die toekomstige een nie.

33. “’n Boom word aan sy vrugte geken. ’n Goeie boom kan nie anders as om goeie vrugte te dra nie. En ’n slegte boom kan nie anders as om slegte vrugte te dra nie.

34. “Julle nes van adders! Julle is sleg. Daarom is dit vir julle onmoontlik om goeie dinge te praat. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.

35. ’n Goeie mens bring uit die oorvloed goeie dinge in sy hart goeie dinge te voorskyn en ’n slegte mens bring uit die oorvloed slegte dinge in sy hart die slegte te voorskyn.

Matteus 12