Lukas 11:23-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

23. “Enigiemand wat My nie help nie, weerstaan My; en enigiemand wat nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, is besig om hulle uitmekaar te jaag.”

24. “Wanneer ’n onrein gees iemand verlaat, gaan hy die woestyn in op soek na rus. Maar as hy dit nie kry nie, sê hy: ‘Ek sal teruggaan na die persoon toe waar ek vandaan kom.’

25. Hy gaan dus terug en kry sy vorige tuiste uitgevee en skoon.

26. Dan gaan haal hy sewe ander geeste erger as hyself, en trek in die persoon in en bly in hom. En so is daardie persoon slegter daaraan toe as voorheen.”

27. Terwyl Hy praat, het ’n vrou in die skare uitgeroep: “God seën u moeder – die skoot waaruit U gekom het, en die borste wat U gevoed het!”

28. Hy het geantwoord: “Maar nog meer geseënd is almal wat die woord van God hoor en dit uitleef.”

29. Terwyl die skare om Jesus saamdrom, het Hy gesê: “Dit is bose tye hierdie, en hierdie bose geslag hou aan om van My ’n wonderteken te vra. Maar die enigste teken wat Ek hulle sal gee, is die teken van die profeet Jona.

30. Wat met hom gebeur het, was ’n teken vir die mense van Nineve dat God hom gestuur het. Wat met My gebeur, sal ’n teken wees dat God My, die Seun van die Mens, na hierdie mense gestuur het.

31. “Die koningin van Skeba sal in die oordeelsdag opstaan en hierdie geslag veroordeel, want sy het van ’n ver land gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En nou is Iemand groter as Salomo hier – en hierdie geslag weier om na Hom te luister.

32. Die mense van Nineve sal ook in die oordeelsdag opstaan en hierdie geslag veroordeel, want hulle het tot inkeer gekom deur die prediking van Jona. En nou is Iemand groter as Jona hier – en hierdie geslag weier om tot inkeer te kom.”

33. “Niemand steek ’n lamp op en steek dit dan weg of sit dit onder ’n emmer nie. Inteendeel, dit word op ’n staander geplaas om lig te laat skyn vir almal wat die kamer binnekom.

34. Jou oog is die lamp vir jou liggaam. ’n Skoon oog laat lig in jou liggaam inskyn. Maar ’n vuil oog sluit die lig uit en dompel jou in duisternis.

35. Maak seker dat die lig wat jy dink jy het, nie dalk duisternis is nie.

Lukas 11