Genesis 41:36-56 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

36. Op hierdie manier sal daar genoeg wees om te eet wanneer die sewe jaar van hongersnood aanbreek. Indien dit nie gedoen word nie, sal ’n ramp die land tref en al die mense sal omkom.”

37. Die farao en sy raadgewers was in hulle skik met Josef se voorstel.

38. Die farao beraadslaag toe met sy amptenare: “Waar sal ons nog iemand kry soos hierdie man? Hy het verseker die gees van die gode in hom.”

39. Hy draai hom toe na Josef toe en sê: “God het die betekenis van hierdie drome aan jou bekendgemaak. Niemand is ook nog so wys en verstandig soos jy nie!

40. Ek stel jou aan oor die projek en oor die paleis. Jy sal oor al my onderdane gesag hê. Net ek sal meer mag as jy hê.”

41. Die farao sê verder vir Josef: “Hiermee stel ek jou aan oor die hele Egipte.”

42. Toe haal die farao sy seëlring af en steek dit aan Josef se vinger as teken van sy gesag. Hy het vir hom klere van fyn linne laat aantrek en ’n goue ketting om sy nek gehang.

43. Die farao het ook sy tweede beste wa vir hom gegee. Oral waar hy gegaan het, het hulle voor hom uitgeroep: “Eer hom! Eer hom!” Op hierdie manier is Josef oor die hele Egipte aangestel.

44. Die farao sê vir Josef: “Ek is die koning, maar niemand sal in die ganse Egipte ’n vinger verroer of ’n voet versit sonder jou goedkeuring nie.”

45. Die farao het hom ’n nuwe naam, Safenat-Paneag, gegee. Hy het Asenat, die dogter van Poti-Fera, die priester van On, vir hom as vrou gegee.

46. Josef was al 30 jaar oud toe hy in diens van die farao getree het. Daarna het Josef deur die hele Egipte gereis.

47. Die land het in die daaropvolgende sewe jaar oorvloed rekord-oeste opgelewer.

48. Josef het gedurende dié sewe jaar al die oeste van Egipte in graanskure opgegaar. Die opbrengste van die landerye is in die naaste stad van daardie omgewing gebêre.

49. Na sewe jaar was die graanskure propvol. Daar was soveel graan soos die sand by die see sodat hy nie meer daarvan rekord kon hou nie.

50. Gedurende hierdie tyd, voor die aanbreek van die eerste jare van hongersnood, het Josef se vrou, Asenat, die dogter van Poti-Fera, priester van On, twee seuns vir hom in die wêreld gebring.

51. Josef het die oudste een Manasse genoem, want hy het gesê: “God het my al my swaarkry laat vergeet, en alles wat my familie teen my gedoen het.”

52. Die tweede een het hy Efraim genoem, want hy het gesê: “God het my voorspoedig gemaak in die land van my swaarkry.”

53. Die einde van die tydperk van voorspoed het aangebreek.

54. Toe begin die tydperk van hongersnood, soos Josef gesê het. Hongersnood het in al die omliggende lande uitgebreek, maar in Egipte was daar genoeg graan in die skure.

55. In Egipte het mense ook begin honger ly. Hulle pleit toe by die farao vir kos, maar hy het gesê: “Gaan na Josef toe en doen wat hy ook al vir julle sê.”

56. Daar was hongersnood oor die hele wêreld. Josef het toe die skure oopgemaak en graan aan die Egiptenaars begin verkoop.

Genesis 41