9. Laat hulle nou hulle afgode en die monumente waarmee hulle hulle konings vereer het, wegvat. Dan sal Ek altyd tussen hulle woon.
10. “Mensekind, beskryf die tempel vir die mense van Israel soos Ek jou gewys het. Sê vir hulle hoe dit lyk en wat die plan is sodat hulle kan skaam kry oor al hulle sondes.
11. En wanneer hulle skaam is oor alles wat hulle gedoen het, beskryf vir hulle al die spesifika-sies van sy konstruksie, ook sy ingange en deure en die bepalings daarvoor. Skryf hierdie spesifikasies neer terwyl hulle kyk sodat hulle dit kan onthou en die voorskrifte onderhou.
12. Dit is die basiese vereistes van die tempel: absolute heiligheid. Die top van die berg waarop die tempel gebou is, is heilig. Ja, dit is die wet vir die tempel.”
13. “Hier is die afmetings van die altaar: Daar is ’n voor rondom die altaar wat ’n half meter diep en ’n half meter breed is, en sy rand was rondom ’n kwart meter breed. Dit is die hoogte van die altaar:
14. Van die afleivoor af na die onderste vlak toe was die hoogte een meter. Die vlak was ’n half meter wyer as die volgende. Van die onderste na die boonste vlak toe was die hoogte twee meter.
15. Die bokant van die altaar, die vuurmaakplek, was twee meter hoog, met ’n horing aan elkeen van die vier hoeke.
16. Die bokant van die altaar was vierkantig, ses meter lank en net so breed.
17. Die boonste vlak was ook vierkantig, sewe meter lank en net so breed. Die afleivoor onder het ’n rand van ’n kwart meter breed gehad en was rondom ’n half meter diep. Daar was trappe aan die oostekant van die altaar.
18. Hy het vir my gesê: “Mensekind, so sê die oppermagtige Here: Hier is die bepalings oor die bring van offers op die altaar en die sprinkel van bloed wanneer die altaar gebou is.
19. Daardie dag moet vir die Levitiese priesters uit die nageslag van Sadok ’n bul gegee word as ’n sonde-offer. Net hulle mag voor My diens verrig, sê die oppermagtige Here.