26. Ek gee julle ’n nuwe hart met die regte begeertes en ’n nuwe gees. Ek vat die ou hart van sonde weg en gee julle ’n nuwe, gehoorsame hart.
27. En Ek gee my Gees in julle sodat julle my voorskrifte sal gehoorsaam en doen wat Ek beveel.
28. “Julle sal in die land bly wat Ek aan julle voorouers gegee het. Julle sal my volk wees, en Ek sal julle God wees.
29. Ek maak julle skoon van alles wat julle lewe besoedel het. Ek gee julle goeie oeste. Julle sal hongersnood nie ken nie.
30. Ek gee vir julle vrugte aan die bome en goeie oeste op die landerye. Nooit sal julle buurlande weer met julle land kan spot oor sy hongersnood nie.
31. Dan sal julle onthou hoe julle vroeër gesondig het, en julleself haat vir al die bose dinge wat julle gedoen het.
32. Maar onthou, sê die oppermagtige Here, Ek doen dit nie omdat julle dit verdien nie. Wees skaam en laat hang julle koppe oor julle gedrag, mense van Israel!
33. “So sê die oppermagtige Here: Wanneer Ek julle skoonmaak van julle sondes, bring Ek mense om in julle stede te leef. Die puinhope sal herbou word.
34. In plaas daarvan dat dit kaalgestroop lê voor almal wat daar verbygaan, sal die verlate velde weer bewerk word.
35. Wanneer Ek julle terugbring, sal mense sê: ‘Hierdie land wat godverlate was, is nou soos die Tuin van Eden! Die stede wat verlate in puin gelê het, is nou versterk en vol mense!’
36. Dan sal al die buurnasies wat oor is, besef dat Ek, die Here, die puinhope herbou het en die verlate landerye weer beplant het. Want Ek, die Here, het dit belowe en Ek sal dit doen!
37. “So sê die oppermagtige Here: Ek staan gereed om in antwoord op Israel se gebede ook dit te doen: Ek maak die volk so baie soos skape.
38. Hulle sal so baie word soos die offerskape wat gedurende feestye Jerusalem se strate vol loop. Die stede wat puinhope was, sal vol mense wees. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.”