20. Toe het koning Hiskia en die profeet Jesaja seun van Amos gebid en na die hemel geroep.
21. Die Here stuur toe ’n engel wat die Assiriese leër met al die bevelhebbers en offisiere vernietig het. Sanherib het in skande na sy eie land toe teruggegaan. Toe hy die tempel van sy god binnegegaan het, het sommige van sy eie seuns hom net daar met ’n swaard doodgemaak.
22. Dit is hoe die Here Hiskia en die inwoners van Jerusalem gered het uit die mag van koning Sanherib van Assirië en van almal wat hom bedreig het. Daar was uiteindelik vrede in die hele land.
23. Baie mense het vir die Here in Jerusalem offers gebring en ook waardevolle geskenke vir koning Hiskia. Van toe af het sy aansien onder die omliggende volke toegeneem.
24. Ongeveer hierdie tyd het Hiskia dodelik siek geword. Hy het tot die Here gebid, en God het hom gesond gemaak en ’n wonderteken gegee.
25. Maar Hiskia het nie toepaslik geantwoord op die goedheid wat aan hom bewys is nie en het trots geword. Daarom het die toorn van die Here hom, Juda en Jerusalem getref.
26. Toe het Hiskia berou gehad oor sy trots en so ook die inwoners van Jerusalem. Die Here se toorn het toe nie tydens Hiskia se regering oor hulle gekom nie.
27. Hiskia was baie ryk en hoog in aansien. Hy moes addisionele skatkamers bou vir al sy silwer, goud, waardevolle stene, speserye en skilde, asook verskeie ander waardevolle items.
28. Hy het ook baie stoorkamers vir sy graan, nuwe wyn en olyfolie gebou en ook baie stalle vir sy beeste, en krale vir sy troppe skape en bokke gemaak.
29. Daarby het hy baie dorpe gebou en groot troppe kleinvee en grootvee gehad, want God het hom baie rykdom gegee.
30. Hy het die boonste uitloop van die Gihonfontein afgesny en die water gelei deur ’n tonnel na die westekant van die Dawidstad. Hy was suksesvol in alles wat hy gedoen het.
31. Maar toe die gesante van Babilonië kom om navraag te doen na die merkwaardige gebeurtenisse wat in die land gebeur het, het God Hom van Hiskia onttrek om hom te toets sodat hy self kon weet wat regtig in sy hart was.
32. Die ander gebeurtenisse tydens die regering van Hiskia en sy dade van toewyding is opgeteken in Die visioen van die profeet Jesaja seun van Amos, wat deel vorm van Die boek van die konings van Juda en Israel.
33. Toe Hiskia sterf, is hy begrawe in die boonste deel van die koninklike begraafplaas. Met sy dood het die hele Juda en Jerusalem hom eer bewys. Sy seun Manasse het in sy plek koning geword.