2 Kronieke 25:7-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Maar ’n man van God het na die koning gekom en gesê: “O koning, moenie soldate van Israel huur nie, want die Here is nie met Israel nie. Hy sal nie die mense van Efraim help nie.

8. As jy hulle saam met jou soldate in die geveg laat deelneem, sal julle verslaan word, maak nie saak hoe dapper hulle veg nie, want God het die mag om te help of om omver te werp.”

9. Amasia vra toe vir die man van God: “Maar wat dan van die drie en ’n half ton silwer wat ek betaal het om die soldate van Israel te huur?”Die man van God antwoord hom: “Die Here is in staat om baie meer as dit te gee!”

10. Amasia het toe die gehuurde troepe ontslaan en teruggestuur na Efraim toe. Hulle was baie kwaad vir Juda en is woedend huis toe.

11. Nogtans het Amasia moed bymekaargeskraap en sy leër na die Soutvallei gelei. Daar het hulle 10 000 Edomiete van Seïr doodgemaak.

12. Hulle het ook 10 000 van hulle gevang en van ’n krans afgegooi sodat hulle hulle onder op die rotse te pletter geval het.

13. Intussen het die gehuurde soldate wat Amasia huis toe gestuur het om nie saam met hom te veg nie verskeie dorpe van Juda tussen Samaria en Bet-Goron gestroop, 3 000 mense doodgemaak en baie buit saamgeneem.

14. Toe koning Amasia terugkeer van die neerlaag wat hy die Edomiete toegedien het, het hy ook afgodsbeelde saamgebring wat hy by die mense van Seïr gevat het. Hy het die beelde vir homself as gode opgestel, voor hulle neergebuig en offers gebring.

15. Dit het die Here baie kwaad gemaak en Hy het ’n profeet gestuur om vir Amasia te vra: “Hoekom het u gode van ’n volk aanbid wat nie eens in staat was om hulle eie mense uit u hand te red nie?”

16. Maar die koning het hom in die rede geval en gesê: “Wanneer het ek jou raad gevra? Bly stil voordat ek jou doodmaak!”Die profeet is daar weg, maar het hom gewaarsku: “Ek weet dat God besluit het om u tot niet te maak omdat u dit gedoen het en nie my raad aanvaar het nie.”

17. Nadat hy met sy raadgewers beraadslaag het, het koning Amasia van Juda hierdie uitdaging aan Israel se koning Joas seun van Joahas en kleinseun van Jehu gestuur: “Kom, laat ons mekaar in ’n geveg ontmoet!”

18. Maar Joas, koning van Israel, het koning Amasia van Juda soos volg geantwoord: “Daar in die Libanonberge het ’n doringbos ’n boodskap na die sederboom gestuur: ‘Gee jou dogter om met my seun te trou.’ Maar op daardie oomblik het ’n wilde dier van die Libanon verbygekom, op die doringbos getrap en dit vermorsel.

19. Jy mag baie trots wees omdat jy Edom verslaan het, maar my advies is dat jy tuisbly. Hoekom moet jy moeilikheid soek wat vir jou en die mense van Juda onheil sal bring?”

20. Amasia wou egter nie luister nie, want die Here het dit so bewerk om hom in Joas se mag oor te gee omdat hy die gode van Edom aanbid het.

21. Koning Joas van Israel het sy leër teen die leër van koning Amasia van Juda gereed gekry. Die twee leërs het by Bet-Semes in Juda teenoor mekaar stelling ingeneem.

2 Kronieke 25