1 Samuel 10:13-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Toe Saul klaar soos ’n profeet opgetree het, het hy na die altaar toe opgegaan.

14. “Waar was jy die hele tyd?” vra sy oom vir hom en die jong man by hom.“Ons het die donkies gaan soek. Toe ons hulle nie kry nie, het ons na Samuel toe gegaan,” antwoord hy.

15. “Is dit so,” sê sy oom. “Vertel my tog asseblief wat Samuel vir julle gesê het.”

16. “Hy het gesê dat die donkies alreeds gekry is,” antwoord Saul. Saul het egter stilgebly oor wat Samuel van die koningskap gesê het.

17. Samuel het die hele volk voor die Here by Mispa bymekaargeroep

18. en die volgende boodskap van die Here God aan die Israeliete oorgedra: “Ek het Israel uit Egipte gelei en julle gered uit die mag van Egipte en al die koninkryke wat julle verdruk het.

19. Hoewel Ek julle van al die onheil en ellende verlos het, het julle My verwerp en gesê: ‘Nee, ons wil liewer ’n koning hê!’ Kom stel julle nou op voor die Here volgens julle stamme en familiegroepe.”

20. Samuel het toe die stamleiers nadergeroep voor die Here en die stam van Benjamin is aangewys.

21. Toe het Samuel al die families in die stam van Benjamin nadergeroep voor die Here, en die familie van Matar is aangewys. Daarna is Saul, die seun van Kis aangewys. Maar toe hulle hom soek, kon hulle hom nie kry nie.

22. Hulle vra toe vir die Here: “Maar is die man al hier?”Toe antwoord die Here: “Hy kruip weg agter die mense se reisgoed.”

23. Hulle het hom daar gekry en vorentoe laat kom. Hy was van sy skouers af ’n kop langer as enigiemand anders.

24. Samuel sê toe vir die volk: “Dit is die man wat die Here gekies het om julle koning te wees. Daar is niemand in Israel wat sy gelyke is nie!”Toe roep al die mense: “Mag die koning lank lewe!”

25. Daarna het Samuel die mense ingelig oor die regte en verpligtings van ’n koning. Hy het dit op ’n rol neergeskryf en dit voor die Here neergesit. Toe het Samuel die mense huis toe gestuur.

1 Samuel 10