22. “Hoekom?” vra die farao hom. “Kom jy hier iets kort dat jy nou wil teruggaan?”“Nee, niks is verkeerd nie,” antwoord hy. “Maar laat my tog teruggaan.”
23. God het ook Reson, seun van Eljada, en onderdaan van koning Hadad-Eser van Soba, aangehits om teen Salomo in opstand te kom. Reson het vir die koning gevlug.
24. Hy het ’n klompie manne om hom bymekaargemaak en die leier van die bende geword. In die tyd toe Dawid die magte van Soba verslaan het, het Reson en sy mense na Damaskus toe gevlug. Hy het daar gaan woon en koning geword.
25. Solank Salomo geleef het, was Reson ’n vyand van Israel. Dit was benewens die kwaad wat Hadad aangerig het. Reson was koning van Aram en het Israel intens gehaat.
26. Daar was ook nog ’n ander opstandeling. Sy naam was Jerobeam seun van Nebat, een van Salomo se amptenare. Hy was ’n Efratiet uit Sereda. Sy ma was Serua, ’n weduwee.
27. Sy opstand het soos volg verloop: Salomo was besig om die terras te bou om die opening in die muur van die Dawidstad toe te maak.
28. Jerobeam was ’n baie bekwame man sodat Salomo hom in beheer geplaas het van die dwangarbeid uit die stamme van Efraim en Manasse.
29. In hierdie tyd het die profeet Agija uit Silo Jerobeam net buite Jerusalem langs die pad teëgekom. Agija het ’n nuwe mantel aangehad. Die twee van hulle was alleen in die veld.
30. Agija vat toe die nuwe mantel en skeur dit in twaalf stukke.
31. Toe sê hy vir Jerobeam: “Vat vir jou tien stukke, want die Here, die God van Israel sê: ‘So gaan Ek die koningskap van Salomo afskeur en tien van die stamme vir jou gee.
32. Ek sal een stam vir hom laat oorbly ter wille van my dienaar Dawid, en ter wille van Jerusalem wat Ek uit al die stamme van Israel gekies het.
33. Dit sal gebeur omdat Salomo My verlaat het en Astarte die godin van die Sidoniërs, Kemos die god van Moab, en Milkom die god van die Ammoniete, aanbid. Hy leef nie meer volgens my wil nie en hy doen wat nie vir My reg is nie. Hy kom nie my gebooie en voorskrifte na soos sy pa Dawid gedoen het nie.
34. “‘Tog sal Ek nie die hele koningskap van hom wegneem nie. Ter wille van my dienaar Dawid, die een wat Ek gekies het en wat my bevele en gebooie gehoorsaam het, sal Ek Salomo toelaat om vir die res van sy lewe te regeer,
35. maar Ek sal die koninkryk van sy seun wegneem en tien van die stamme vir jou gee.
36. Sy seun sal een stam behou sodat die troon van my dienaar Dawid bestendig sal wees in Jerusalem, die stad wat Ek gekies het ter ere van my Naam.
37. Ek sal jou koning maak volgens jou hartsbegeerte sodat jy oor Israel kan regeer.
38. As jy vir My luister en volgens my wil lewe en doen wat Ek as reg beskou; as jy my gebooie en bepalings gehoorsaam soos my dienaar Dawid gedoen het, dan sal Ek altyd by jou wees. Ek sal ’n blywende koningshuis vir jou oprig soos Ek vir Dawid gemaak het en Ek sal Israel vir jou gee.