2 Kronieke 29:15-30 Die Boodskap (DB)

15. Hulle het al die ander Leviete bymekaargemaak. Daarna het hulle hulleself skoongemaak en toe die koning se opdrag uitgevoer: hulle het die tempel presies volgens die reëls van die Here skoongemaak.

16. Die priesters het in die tempel ingegaan en alles skoongemaak. Hulle het die vuil goed uitgebring na die voorhof toe. Daar het die Leviete dit gevat en buite die stad in die Kidronvallei gaan weggooi.

17. Die skoonmaakwerk het op die eerste dag van die eerste maand begin. Binne agt dae het hulle tot by die voorhof skoongemaak. Dit het nog agt dae gevat om die tempel self skoon te maak en na sestien dae was alles klaar.

18. Hulle het vir koning Hiskia gesê: “Ons het die tempel klaar skoongemaak. Alles is weer op hulle plek: die altaar vir die brandoffers met al die gereedskap wat daar gebruik word, asook die tafel waarop die offerbrood neergesit word met al sy gereedskap.

19. “Ons het ook al die gereedskap teruggekry wat koning Agas gevat het. Hy was ongehoorsaam aan die Here. Dit is alles weer op hulle plek voor die Here se altaar.”

20. Vroeg die volgende oggend het koning Hiskia die stad se leiers bymekaargemaak. Hulle het na die tempel toe gegaan.

21. Hulle het sewe bulle, sewe skaapramme, sewe lammers en sewe bokramme gebring om te slag. Dit was ’n offer vir die Here. Op hierdie manier wou hulle om verskoning vra vir die sondes van die koning se familie, en ook ter wille van die tempel en die mense van Juda. Priesters uit Aäron se nageslag het die diere op die Here se altaar geoffer.

22. Hulle het toe die beeste geslag en hulle bloed teen die altaar uitgegooi. Daarna het hulle dieselfde met die skaapramme en toe met die lammers gedoen.

23. Die bokramme was bedoel om die sonde weg te neem. Daarom het die priesters die bokke tot voor die koning en die ander mense gebring wat saam met hom daar was. Hulle almal het hulle hande op die bokke gesit.

24. Daarna het die priesters die bokke geslag en hulle bloed teen die altaar uitgegooi om al Israel se sonde voor God weg te neem. Die koning het gesê dat hierdie brandoffers en die sondeoffers vir die hele Israel se sondes bedoel is.

25. Toe het Hiskia die Leviete met hulle simbale, harpe en liere by die tempel laat aantree. Hy het dit gedoen presies volgens die Here se opdragte wat Dawid deur die siener Gad en die profeet Natan ontvang het.

26. Die Leviete het nader gestaan met die musiekinstrumente wat Dawid laat maak het, en die priesters met trompette.

27. Toe het Hiskia beveel dat die offer op die altaar verbrand moes word. Toe die offer begin, het die Leviete tot die Here se eer begin sing en die trompette geblaas. Dit is begelei deur musiek wat op die instrumente van Dawid, Israel se koning, gemaak is.

28. Die hele vergadering het die Here vereer. Die sang en trompetspel het aangehou totdat die offers klaar was.

29. Toe die brandoffer klaar was, het die koning en al die mense neergekniel en die Here vereer.

30. Koning Hiskia en sy amptenare het die Leviete gevra om van die lofliedere van Dawid en die siener Asaf te sing. Hulle het dit met vreugde gedoen en toe het hulle die Here aanbid.

2 Kronieke 29