5. Herodes wou toe vir Johannes laat doodmaak, maar hy was bang vir die mense, omdat hulle gedink het Johannes is ’n profeet.
6. Op Herodes se verjaarsdag het die dogter van Herodias tussen al die mense gedans. Dit was vir Herodes baie mooi,
7. daarom het hy belowe om vir haar enige iets te gee wat sy vra.
8. Haar ma het vir haar gesê wat sy moet vra, en daarom het sy gesê: “Bring vir my die kop van Johannes die Doper hier in ’n skottel.”
9. Die koning het baie hartseer geword, maar hy het dit vir haar belowe en al die mense wat saam geëet het, het dit gehoor. Daarom het hy gesê sy soldate moet doen wat sy gevra het.
10. Hy het soldate gestuur om Johannes die Doper se kop in die tronk af te kap.
11. Die soldate het sy kop in ’n skottel gebring en hulle het dit vir die meisie gegee, en sy het dit vir haar ma gegee.
12. Die dissipels van Johannes die Doper het gekom en hulle het sy liggaam weggeneem en dit begrawe. Toe het hulle gegaan en vir Jesus vertel wat gebeur het.
13. Jesus het gehoor wat gebeur het. Hy het toe in ’n boot weggegaan na ’n stil plek om alleen te wees. Baie mense het gehoor waar Jesus is en hulle het na Hom toe geloop uit die stede.
14. Jesus het uit die boot geklim en Hy het die klomp mense gesien. Hy was baie jammer vir hulle en Hy het die siek mense wat by hulle was, gesond gemaak.
15. Toe dit begin donker word, kom die dissipels na Jesus toe en sê vir Hom: “Hierdie plek is ver van ’n stad en dit is al laat. Stuur die klomp mense weg sodat hulle na die dorpies kan gaan en vir hulle kos kan koop om te eet.”
16. Maar Jesus het vir hulle gesê: “Nee, hulle moenie weggaan nie, dit is júlle wat vir hulle kos moet gee om te eet.”
17. Die dissipels sê toe vir Jesus: “Ons het net vyf brode en twee visse.”
18. Jesus het vir hulle gesê: “Bring dit hier vir My.”
19. Hy het vir al die mense gesê hulle moet op die gras gaan sit. Toe het Jesus die vyf brode en die twee visse geneem en Hy het opgekyk na die hemel. Hy het God geprys en dankie gesê vir die kos. Daarna het hy die brood in stukke gebreek en Hy het dit vir sy dissipels gegee, en die dissipels het dit vir die mense gegee.
20. Almal het genoeg geëet, en hulle het twaalf mandjies vol stukkies kos opgetel wat oorgebly het.
21. Daar was baie mense wat geëet het. Die mans was omtrent 5 000. Daar was ook nog vroue en kinders.
22. Daarna het Jesus vir die dissipels gesê hulle moet dadelik in die boot klim en voor Hom na die ander kant van die see gaan. Hy wou eers vir die mense sê hulle moet huis toe gaan.
23. Nadat Jesus al die mense huis toe gestuur het, het Hy alleen teen die berg opgegaan om te bid. Dit het donker geword en Jesus was alleen daar.
24. Die boot was toe ver van die land. Die branders het die boot rondgegooi, want die wind het sterk van voor gewaai.
25. Vroeg die volgende oggend, voordat dit lig geword het, het Jesus na hulle toe gekom. Hy het op die see geloop.