Johannes 15:4-22 Bybel vir Almal (ABA)

4. Julle moet by My bly soos Ek by julle bly. Julle moet onthou ’n loot alleen kan nie vrugte dra nie, dit moet aan die wingerdstok vas bly. Julle kan ook nie vrugte dra as julle nie by My bly nie.

5. Ek is die wingerdstok. Julle is die lote. As julle by My bly en as Ek by julle bly, dan sal julle baie vrugte dra. As Ek nie by julle is nie, dan kan julle niks doen nie.

6. As mense nie by My bly nie, dan sal met hulle gebeur wat met lote gebeur wat nie vrugte dra nie. Die mense gooi daardie lote weg, en dit word droog. Later vat hulle dit en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.

7. Julle moet by My bly, en die dinge wat Ek vir julle sê, moet in julle harte bly. Dan kan julle vir My vra wat julle wil hê en Ek sal dit vir julle gee.

8. As julle baie vrugte dra, en as julle my dissipels is, dan sal die mense weet my Vader is God.

9. “Die Vader is lief vir My. So is Ek ook lief vir julle. Julle moet vashou aan my liefde, my liefde moet vir julle baie belangrik wees.

10. Ek het vasgehou aan my Vader se liefde, want Ek het gedoen wat Hy gesê het. Julle moet dieselfde doen. As julle wil doen wat Ek sê, dan moet julle vashou aan my liefde.

11. Ek sê dit vir julle, want Ek wil hê julle moet so bly wees soos Ek. Dan sal julle regtig baie bly wees.

12. Ek het vir julle gewys hoe lief Ek vir julle is. Nou gee Ek vir julle ’n wet: Julle moet ook so lief wees vir mekaar.

13. Die beste bewys van liefde is wanneer iemand vir sy vriende sterf sodat sy vriende kan lewe.

14. Julle is my vriende as julle doen wat Ek sê.

15. Ek noem julle nie meer slawe nie, want ’n slaaf weet nie wat sy eienaar doen nie. Ek noem julle vriende, want Ek het vir julle alles vertel wat Ek by my Vader gehoor het.

16. Julle het My nie gekies nie, Ek het julle gekies. Ja, Ek het julle gekies en aangestel om vrugte te dra, vrugte wat nie sleg word nie. Dan sal die Vader vir julle alles gee as julle dit vra omdat julle aan My behoort.

17. Ek sê vir julle: Julle moet lief wees vir mekaar.”

18. Jesus het ook vir die dissipels gesê: “As die mense van die wêreld julle haat, dan moet julle onthou hulle het My gehaat voordat hulle julle gehaat het.

19. As julle mense is wat lief is vir die wêreld, dan sal die ander mense van die wêreld lief wees vir julle, want dan is julle soos hulle. Maar julle is nie mense van die wêreld nie. Ek het julle gekies uit die mense van die wêreld. Daarom haat die mense van die wêreld julle.

20. Julle moet onthou, Ek het vir julle gesê ’n slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. Die mense van die wêreld het slegte dinge gedoen aan My, en daarom sal hulle ook slegte dinge doen aan julle. Hulle het nie geluister na wat Ek sê nie, en daarom sal hulle ook nie luister na wat julle sê nie.

21. Hulle sal slegte dinge doen aan julle, want julle behoort aan My. Hulle ken ook nie vir God nie, God wat My na die wêreld gestuur het.

22. Ek het gekom en Ek het met hulle gepraat. Nou kan hulle nie sê hulle is nie sondaars nie. Hulle kan nie sê hulle weet nie dat hulle sonde doen nie.

Johannes 15