7. En môre sal julle die lig sien wat om die Here, die Koning, is wanneer Hy verskyn. Hy het gehoor wat julle van Hom praat. Hoekom beskuldig julle vir my en Aäron? Ons is nie belangrik nie.”
8. Moses het gesê: “Die Here sal vanaand vir julle vleis gee en môre-oggend brood, meer as genoeg kos. Hy sal dit doen omdat Hy gehoor het julle praat van Hom. Julle het nie vir óns beskuldig nie, julle het vir die Here beskuldig.”
9. Moses het vir Aäron gesê hy moet vir al die Israeliete sê: “Kom almal bymekaar, want die Here het gehoor wat julle van Hom gepraat het.”
10. Nadat Aäron met al die Israeliete gepraat het, het hulle omgedraai en na die woestyn gekyk. Hulle het in ’n wolk die lig gesien wat om die Here, die Koning, is wanneer Hy verskyn.
11. Die Here het vir Moses gesê:
12. “Ek het gehoor wat die Israeliete praat. Sê vir hulle: ‘Vanaand sal julle vleis eet en môre-oggend sal julle baie kos hê, meer as genoeg. Dan sal julle weet dat Ek julle God die Here is.’ ”
13. Daardie aand het daar kwartels gekom en hulle het oral in die kamp gaan sit. Toe was daar vleis om te eet.Die volgende oggend was daar dou rondom die kamp.
14. Toe die dou weggaan, was daar iets soos stof op die grond in die woestyn. Dit was korrels en dit het gelyk soos ryp op die grond.
15. Toe die Israeliete dit sien, sê hulle vir mekaar: “Manna, wat is dit?”Hulle het nie geweet wat dit is nie.
16. Moses het vir hulle gesê: “Dit is die brood wat die Here vir julle gee om te eet. Die Here het gesê julle moet dit optel, elkeen moet genoeg optel om te eet, hy moenie méér optel nie. Julle moet vir elkeen in julle huisgesin ’n omer manna optel.”
17. Die Israeliete het dit gedoen. Party het baie opgetel, en party het min opgetel.
18. Maar toe hulle dit met die kruik gemeet het, was dit genoeg. Elkeen wat baie opgetel het, het nie te veel vir sy huisgesin gehad nie, en elkeen wat min opgetel het, het nie te min vir sy huisgesin gehad nie. Elkeen het genoeg opgetel vir sy huisgesin, hy het nie méér opgetel nie.
19. Moses het vir hulle gesê: “Niemand moet van die kos los tot die volgende oggend nie.”
20. Maar die Israeliete het nie geluister na Moses nie. Hulle het van die kos gelos tot die volgende oggend. Daar het toe wurms in die kos gekom, en die kos het sleg geword. Moses was baie kwaad vir hulle.
21. Die Israeliete het elke oggend die manna opgetel, elkeen het genoeg opgetel om te eet, hy het nie méér opgetel nie. Wanneer dit later warm geword het, dan het die manna gesmelt wat hulle nie opgetel het nie.
22. Op die sesde dag het hulle twee maal meer manna opgetel, twee omer vir elkeen. Al die leiers van die volk het dit vir Moses kom vertel.
23. Moses het vir hulle gesê die Here het gesê: “Môre is ’n rusdag, ’n gewyde Sabbatdag vir die Here. Julle mag vandag alles bak wat julle wil bak en alles kook wat julle wil kook. Alles wat oor is, moet julle bêre tot môre-oggend.”