3. Koning Adoni-Sedek van Jerusalem het toe vir koning Hoham van Hebron, vir koning Piram van Jarmut, vir koning Jafia van Lakis en vir koning Debir van Eglon laat weet:
4. “Kom help my dat ons Gibeon aanval; hulle het vrede gemaak met Josua en die Israeliete.”
5. Die vyf Amoritiese konings, die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon, het toe elkeen met sy hele leër gekom, hulle manskappe teen Gibeon ontplooi en die aanval begin.
6. Die manne van Gibeon het vir Josua in die kamp by Gilgal laat weet: “Moet ons tog nie nou in die steek laat nie, u moet gou hiernatoe kom en ons red. U moet ons help, want al die Amoritiese konings in die Bergland het 'n bondgenootskap teen ons gesluit.”
7. Josua en al sy manskappe, al die dapper vegters, het toe uit Gilgal vertrek.
8. Die Here het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie, Ek gee hulle in jou mag oor. Nie een van hulle is teen jou bestand nie.”
9. Josua het van Gilgal af die hele nag deur getrek en die Amoriete skielik oorval.
20-21. Toe Josua en die Israeliete klaar was met die groot slagting onder die vyande, is al die manskappe behoue terug na die kamp toe, na Josua toe in Makkeda. Die vyand is tot die laaste man toe doodgemaak, afgesien van die paar wat ontkom en die vestingstede gehaal het. Niemand het dit gewaag om iets teen die Israeliete te sê nie.
22. Josua het gesê: “Maak oop die grot se bek en bring die vyf konings uit die grot uit na my toe.”
23. Hulle het dit gedoen, hulle het die vyf konings uit die grot uit na Josua toe gebring, die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon.
24. Nadat hulle die konings na Josua toe gebring het, roep hy al die Israeliete en sê vir die offisiere wat met hom saamgegaan het: “Kom hier, sit julle voete op die konings se nekke.”Hulle het dit toe gedoen,
25. en Josua het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie, moenie bekommerd wees nie, wees sterk, wees vasberade. So sal die Here maak met al julle vyande teen wie julle nog moet oorlog maak.”
26. Daarna het Josua die konings doodgemaak. Hy het hulle elkeen aan 'n boom opgehang en hulle het daar bly hang tot die aand toe.
27. Met sononder is hulle op bevel van Josua van die bome af afgehaal en in die grot gegooi waar hulle weggekruip het. Die bek van die grot is met groot klippe toegepak. Dié is tot vandag toe nog daar.
28. Daardie dag het Josua ook Makkeda ingeneem. Hy het die mense en hulle koning laat doodmaak en al wat leef in die stad uitgeroei. Niemand het vrygekom nie. Hy het met die koning van Makkeda gedoen soos met die koning van Jerigo.
29. Van Makkeda af is Josua, met die hele Israel by hom, na Libna toe. Hy het Libna aangeval,
30. en die Here het ook dié stad met sy koning in die mag van Israel oorgegee. Josua het die mense, al wat leef in die stad, doodgemaak. Niemand het vrygekom nie. Hy het met die koning van Libna gedoen soos met die koning van Jerigo.
31. Van Libna af is Josua, met die hele Israel by hom, na Lakis toe. Hy het sy manskappe teen die stad ontplooi en dit aangeval.
32. Die Here het Lakis in die mag van Israel oorgegee, en Israel het die stad na twee dae ingeneem en al wat leef daarin doodgemaak, net soos hy met Libna gedoen het.
33. Toe koning Horam van Geser vir Lakis te hulp snel, het Josua hom en sy manskappe ook verslaan. Niemand het vrygekom nie.
34. Van Lakis af is Josua, met die hele Israel by hom, na Eglon toe. Hy het sy manskappe teen die stad ontplooi en dit aangeval.
35. Hulle het die stad nog dieselfde dag ingeneem en al wat leef daarin doodgemaak. Josua het die hele stad uitgeroei, net soos hy met Lakis gedoen het.