Die Openbaring 9:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Die vyfde engel het toe op sy trompet geblaas. Ek het 'n ster gesien wat van die hemel af op die aarde geval het, en die sleutel van die skag na die onderaardse diepte is aan hom gegee.

2. Hy het toe die skag na die onderaardse diepte oopgemaak, en daar het rook uit die skag uit opgestyg soos die rook van 'n groot oond. Deur die skag se rook is die son verduister en het die lug donker geword.

3. Toe het daar uit die rook sprinkane oor die aarde uitgeswerm. Aan hulle is dieselfde vermoë gegee as wat skerpioene op aarde het.

4. Hulle is aangesê om nie die gras van die aarde, die plante en die bome kwaad aan te doen nie, maar net die mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie.

5. Hulle is nie toegelaat om die mense dood te maak nie, maar wel om hulle vyf maande lank te pynig. Die pyn wat hulle veroorsaak, is soos die pyn as 'n skerpioen 'n mens steek.

6. In daardie tyd sal die mense die dood soek en dit nie vind nie; hulle sal verlang om te sterwe, maar die dood sal hulle ontwyk.

7. Die sprinkane het gelyk soos perde wat regstaan vir oorlog. Op hulle koppe was daar iets soos krone wat gelyk het asof dit van goud is. Hulle gesigte was soos die gesigte van mense.

8. Hulle het lang hare gehad soos vrouens se hare, en hulle tande was soos dié van leeus.

9. Hulle borskaste was soos ysterharnasse. Die gedreun van hulle vlerke was soos die gedreun van baie strydwaens met perde wat opruk vir oorlog.

10. Hulle het sterte met angels soos dié van skerpioene; en in hulle sterte is hulle vermoë om die mense vyf maande lank kwaad aan te doen.

11. Hulle het die engel van die onderaardse diepte as koning oor hulle. Sy naam in Hebreeus is Abaddon, en in Grieks het hy die naam Apollion.

12. Die eerste “Wee!” is verby. Kyk, daar kom nog twee hierna.

Die Openbaring 9