8. Skielik het Babel geval en is verbreek. Huil oor hom; gaan haal balsem vir sy pyn! Miskien sal hy gesond word.
9. Ons het aan Babel medisyne gegee, maar hy het nie gesond geword nie; verlaat hom en laat ons trek, elkeen na sy land; want sy strafgerig raak tot aan die hemel en verhef hom tot by die wolke.
10. Die Here het ons geregtighede te voorskyn gebring; kom en laat ons in Sion vertel die werk van die Here onse God!
11. Maak skerp die pyle, vat die skilde! Die Here het die gees van die konings van Medië opgewek; want sy voorneme is teen Babel om hom te verwoes; want dit is die wraak van die Here, die wraak van sy tempel.
12. Hef ’n banier op teen die mure van Babel, versterk die wagposte, sit wagte uit, hou hinderlae klaar; want soos die Here Hom voorgeneem het, so het Hy gedoen wat Hy oor die inwoners van Babel gespreek het.
13. Jy wat by die groot waters woon, wat skatryk is, jou einde het gekom, die maat waarop jy afgesny word.
14. Die Here van die leërskare het by Homself gesweer: Al het Ek jou vol mense gemaak soos sprinkane, tog sal hulle oor jou ’n vreugdegeroep aanhef.
15. Hy wat die aarde gemaak het deur sy krag, die wêreld gegrond het deur sy wysheid en die hemel uitgespan het deur sy verstand —
16. as Hy sy stem laat hoor, is daar ’n geruis van waters in die hemel; en Hy laat dampe opgaan van die einde van die aarde; Hy maak bliksems vir die reën en laat die wind uitgaan uit sy voorraadskure.
17. Elke mens word dom, sonder kennis; elke goudsmid staan beskaamd deur die beeld; want sy gegote beeld is ’n leuen, en daar is geen gees in hulle nie.
18. Nietige afgode is hulle, werk vir spotterny; in die tyd van hulle besoeking gaan hulle tot niet.
19. Jakob se deel is nie soos hulle nie; want Hy is die Formeerder van alles, en Israel is die stam van sy erfenis; Here van die leërskare is sy Naam.
20. Jy is vir My ’n hamer en oorlogswapens; en met jou verbrysel Ek nasies, en met jou verwoes Ek koninkryke.
21. En met jou verbrysel Ek die perd en sy ruiter; en met jou verbrysel Ek die strydwa en die wat daarop ry.
22. En Met jou verbrysel Ek man en vrou; en met jou verbrysel Ek grysaard en seun; en met jou verbrysel Ek die jongman en die jongedogter.
23. En met jou verbrysel Ek die herder en sy trop vee; en met jou verbrysel Ek die landbouer en sy twee osse; en met jou verbrysel Ek goewerneurs en owerstes.
24. Maar Ek sal voor julle oë aan Babel en aan al die inwoners van Chaldéa vergelde al hulle kwaad wat hulle in Sion gedoen het, spreek die Here.
25. Kyk, Ek het dit teen jou, o berg wat verwoes, spreek die Here; jy wat die hele aarde verwoes. En Ek sal my hand teen jou uitstrek en jou van die rotse afrol en sal jou maak ’n afgebrande berg.
26. En hulle sal uit jou geen klip neem vir ’n hoek of ’n klip vir fondamente nie; want jy sal ewige wildernisse wees, spreek die Here.
27. Hef ’n banier op oor die aarde, blaas die basuin onder die nasies, heilig nasies teen hom, roep teen hom op die koninkryke van Árarat, Minni en Áskenas, stel ’n kommandant teen hom aan, laat perde optrek soos stekerige sprinkane!
28. Heilig nasies teen hom, die konings van Medië, die goewerneurs en al die owerstes daarvan, ja, die hele land van sy heerskappy.