Eségiël 10:1-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. DAARNA het ek gekyk — en daar was op die uitspansel, oor die hoof van die gérubs, iets soos ’n saffiersteen; iets wat soos die gestalte van ’n troon gelyk het, het oor hulle sigbaar geword.

2. En Hy het die man aangespreek wat met linne bekleed was, en gesê: Gaan in tussen die ratwerk onder die gérub in, en vul jou twee hande met gloeiende kole tussen die gérubs vandaan, en strooi dit oor die stad. Toe gaan hy voor my oë daar in.

3. En die gérubs het aan die regterkant van die huis gestaan toe die man daar ingaan, en die wolk het die binneste voorhof gevul.

4. Toe het die heerlikheid van die Here van die gérub af opgestyg oor die drumpel van die huis; en die huis is gevul met die wolk, en die voorhof was vol van die glans van die Here se heerlikheid.

5. En die geruis van die gérubs se vlerke is gehoor tot in die buitenste voorhof, soos die stem van die almagtige God as Hy spreek.

6. En toe Hy aan die man wat met linne bekleed was, bevel gegee het deur te sê: Neem vuur tussen die ratwerk, tussen die gérubs uit, het hy ingegaan en langs die wiel gaan staan.

7. Toe steek die gérub sy hand uit, tussen die gérubs uit, na die vuur wat tussen die gérubs was; en hy neem daarvan en gee dit in die twee hande van hom wat met linne bekleed was; dié het dit geneem en uitgegaan.

8. En daar is aan die gérubs gesien die vorm van ’n mens se hand onder hulle vlerke.

9. Toe het ek gekyk — en daar was vier wiele langs die gérubs, telkens een wiel langs elke gérub; en die voorkoms van die wiele was soos dié van chrisoliet.

10. En aangaande hulle voorkoms, al vier het dieselfde voorkoms gehad, asof daar ’n wiel binne-in ’n wiel was:

11. as hulle gaan, het hulle na al vier kante gegaan; hulle het nie gedraai as hulle gaan nie; maar daar waar die voorste heen draai, het hulle agter hom aan gegaan; hulle het nie gedraai as hulle gaan nie.

12. En hulle hele liggaam en hulle rugge en hulle hande en hulle vlerke en die wiele was vol oë rondom, aan al die vier wiele van hulle.

13. Aangaande die wiele, hulle is voor my ore die ratwerk genoem.

14. En elkeen het vier aangesigte gehad: die eerste aangesig was die aangesig van ’n gérub en die tweede aangesig die aangesig van ’n mens en die derde die aangesig van ’n leeu en die vierde die aangesig van ’n arend.

15. En die gérubs het opgestyg. Dit was die wese wat ek by die Kebarrivier gesien het.

Eségiël 10