Rigters 6:5-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. Die hordes Midianiete het met hulle veetroppe gekom en soos ’n swerm sprinkane hulle tente oral opgeslaan. Hulle kamele kon nie eers getel word nie. Waar hulle ook al gekom het, het hulle die land kaalgestroop.

6. As gevolg van die Midianiete was die Israeliete totaal teen die grond. Die Israeliete het toe by die Here om hulp begin smeek.

7. Toe die Israeliete vanweë die Midianiete so by die Here begin soebat om hulle te help,

8. het Hy ’n profeet na hulle gestuur. Hy het vir hulle gesê: “Dit is wat die Here, die God van Israel, vir julle sê: ‘Ek het julle uit Egipte laat trek. Ek het julle bevry van die slawerny in Egipte.

9. Ek het julle gered uit die hand van Egipte en hulle wat julle onderdruk het. Ek het hulle voor julle uit verdryf en Ek het hulle land vir julle gegee.

10. Ek het vir julle gesê: Ek is die Here julle God. Julle mag nie die gode dien van die Amoriete in wie se land julle woon nie. Maar julle wou nie na My luister nie.’”

11. Die Engel van die Here het onder die eikeboom in Ofra kom sit. Dit het aan Joas van die Abiëserfamilie behoort. Sy seun Gideon was besig om onder op die vloer van ’n parskuip koring uit te slaan. Hy het daar vir die Midianiete weggekruip.

12. Die Engel van die Here het toe aan hom verskyn. Hy het vir hom gesê: “Die Here is by jou, dapper man!”

13. “Meneer,” het Gideon vir hom gesê, “as die Here wel by ons is, waarom gebeur al hierdie dinge met ons? Waar is al die wonderlike dinge wat Hy gedoen het waarvan ons voorouers ons vertel het? Hulle het vertel: ‘Die Here het ons uit Egipte bevry.’ Maar nou het die Here sy rug op ons gedraai. Hy het ons uitgelewer aan die mag van die Midianiete.”

14. Die Here het toe na Gideon toe gedraai en vir hom gesê: “Gaan met hierdie krag wat jy het en gaan bevry die Israeliete uit die mag van die Midianiete! Ek stuur jou.”

15. Maar Gideon sê vir Hom: “Verskoon my, Meneer, maar hoe kan ek Israel red? My familie is een van die swakstes in Manasse. Ek is die onbelangrikste lid in my pa se familie.”

16. “Ek is dan saam met jou!” het die Here vir hom gesê. “Jy sal al die Midianiete verslaan asof jy net teen een man veg.”

17. Gideon het vir Hom gesê: “As ek U nog net een ding kan vra: Gee tog vir my ’n teken waardeur ek seker kan wees dat dit U is, Here, wat met my praat!

18. Moet asseblief nie van hier af weggaan voordat ek na U teruggekom het om my offer hier voor U te kom neersit nie.” Die Here sê toe: “Ek sal hier vir jou wag tot jy terug is.”

19. Gideon is terug huis toe. Hy het ’n bokkie gaargemaak en uit sestien kilogram meel ’n ongesuurde brood gebak. Hy het die vleis in ’n mandjie gepak en die sous in ’n pot gegooi. Hy het daarmee teruggekom na die Engel onder die eikeboom en dit daar neergesit.

20. God se Engel sê toe vir Gideon: “Vat die vleis en die brood en sit dit op hierdie rots neer. Gooi die sous daaroor uit.” Gideon het so gemaak.

21. Die Engel van die Here het toe met die punt van die stok in sy hand aan die vleis en die brood geraak. Vuur het uit die rots opgevlam en die vleis en die brood weggebrand. Die Engel van die Here het toe verdwyn.

22. Toe Gideon agterkom dat dit die Engel van die Here was, het hy hardop uitgeroep: “Ag tog, oppermagtige Here, ek het dan die Engel van die Here in die oë gekyk!”

23. “Dit is alles in orde,” het die Here vir Gideon gesê. “Moenie bang wees nie! Jy sal nie sterf nie!”

Rigters 6