Numeri 29:13-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Op daardie dag moet julle ’n buitengewone brandoffer tot vreugde van die Here bring. Dit is ’n vuuroffer van dertien jong bulle, twee ramme en veertien lammers van ’n jaar oud. Almal moet gesond en sonder tekortkomings wees.

14. Saam met elkeen van die dertien bulle moet julle ’n graanoffer bring van vyf kilogram meel met olie gemeng. Bring saam met elkeen van die twee ramme drie kilogram meel,

15. en saam met elkeen van die veertien lammers een en ’n half kilogram meel.

16. Julle moet ook nog ’n bokram as sonde-offer bring bo en behalwe die gereelde brandoffer saam met die graanoffer en die drankoffer.

17. “Op die tweede dag van die fees moet julle twaalf jong bulle, twee ramme en veertien jaaroud lammers offer. Almal moet sonder tekortkomings wees.

18. Bring daarmee saam die graanoffers en drankoffers volgens die getalle wat voorgeskryf is.

19. Bring ook nog ’n bokram vir ’n sonde-offer bo en behalwe die gereelde brandoffer, graanoffer en drankoffer.

20. “Op die derde dag van die fees moet julle elf bulle, twee ramme en veertien lammers van ’n jaar oud offer. Almal moet gesond en sonder gebrek wees.

21. Bring daarmee saam die graanoffers en drankoffers volgens die getalle wat daarvoor neergelê is.

22. Bring ook nog ’n bokram as sonde-offer bo en behalwe die gereelde brandoffer met sy graanoffer en drankoffer.

23. “Op die vierde dag van die fees moet julle tien gesonde bulle offer en twee ramme en veertien lammers van ’n jaar oud.

24. Bring saam met elkeen die graanoffers en die drankoffers, soos dit bepaal is.

25. Julle moet ook nog ’n bokram as sonde-offer bring naas die gereelde brandoffer met sy graanoffer en drankoffer.

26. “Op die vyfde dag moet julle nege bulle, twee ramme en veertien lammers offer. Almal moet gesond wees.

27. Saam met die bulle, ramme en lammers moet die graanoffers en drankoffers gebring word volgens die getalle wat daarvoor bepaal is.

28. Afgesien van die gereelde brandoffer, graanoffer en drankoffers, moet ook nog ’n ram as sonde-offer gebring word.

29. “Op die sesde dag van die fees moet julle agt bulle, twee ramme en veertien lammers van ’n jaar oud offer. Almal moet gesond en sonder gebrek wees.

30. Offer daarmee saam die graanoffers en drankoffers volgens die getalle wat daarvoor neergelê is.

Numeri 29