7. Josua en sy hele mag het na die Meromwaters opgeruk en hulle in ’n verrassingsaanval oorval.
8. Die Here het vir Israel die oorwinning gegee. Hulle het die vyand agtervolg tot by Groot-Sidon, Misrefot-Majim en tot in die Mispelaagte in die ooste. Die Israeliete het hulle uitgeroei totdat daar nie een oor was nie.
9. Josua het gemaak soos die Here gesê het en hulle perde se hakskeensenings afgesny en hulle strydwaens verbrand.
10. Josua het toe omgedraai en Hasor ingeneem. Hy het sy koning met die swaard doodgemaak. Hasor was destyds die hoofstad van al die omringende koninkryke.
11. Hulle het elke lewende wese in die stad doodgemaak en niemand gespaar nie. Josua het die stad afgebrand.
12. Hy het ook al die omringende dorpe ingeneem en hulle konings en inwoners uitgewis. Dit was soos Moses, die dienaar van die Here, beveel het.
13. Israel het egter nie die plekke wat op ruïneheuwels gebou was, afgebrand nie. Josua het net Hasor afgebrand.
14. Alles wat hulle in hierdie stede kon buit en die vee het Israel vir hulleself gehou. Hulle het die mense uitgeroei tot daar nie een oor was nie.
15. Alles wat die Here sy dienaar Moses beveel het, en wat Moses weer vir Josua opgedra het, het Josua gedoen. Hy het nêrens van enigiets wat die Here Moses beveel het, afgewyk nie.
16. Josua het die hele gebied ingeneem: die heuwelgebied, die hele Negevgebied, die hele Gosengebied, die kusvlakte, die Jordaanvallei en die heuwels van Israel met hulle valleie.
17. Die gebied van Israel het nou geloop van Kaalbergwat oploop na Seïr toe, tot by Baäl-Gad in die Libanonvallei aan die voet van die Hermonberg. Josua het al die konings van hierdie gebiede verslaan en hulle doodgemaak.
18. Die oorlog wat hy met hulle gemaak het, het lank geduur.
19. Behalwe die Hewiete wat in Gibeon gewoon het, wou geen stad met die Israeliete vrede sluit nie. Hulle moes almal deur gevegte verower word.
20. Dit was die Here wat hulle oorreed het om eerder oorlog teen Israel te maak sodat Israel hulle met die banvloek kon tref en hulle geheel en al kon uitwis soos die Here vir Moses gesê het.
21. Dit was in hierdie tyd dat Josua ook die afstammelinge van die Enakiete in die berge, in Hebron, Debir en Anab, in al die Judaberge en in al die Israelberge, uitgewis het. Josua het hulle saam met hulle stede totaal uitgeroei.