Jesaja 14:16-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. Almal daar sal jou aangaap en vra: ‘Kan dit die man wees wat die aarde met sy koninkryke geskud het?

17. Is dit die man wat die wêreld in ’n woestyn verander het? Is dit die koning wat die wêreld se grootste stede platgevee het en geen genade vir sy gevangenes gehad het nie?’

18. “Al die konings van die nasies is met eer begrawe,elkeen in sy eie graf.

19. Maar jou lyk word in die graf gegooi soos ’n boomtak wat klaar verrot is. Jy lê in ’n massagraf saam met die lyke van dié wat in die oorlog dood is. Soos ’n lyk wat vertrap word,

20. sal jy nie ’n behoorlike begrafnis kry nie. Want jy het jou eie volk verwoes en jou eie mense geslag. Mag jou seun jou nie as koning opvolg nie!

21. Maak hierdie booswig se kinders dood sodat hulle nie opstaan en die land beset of die stede van die wêreld herbou nie!”

22. So sê die Here, die Almagtige: “Ek self het teen hom opgestaan! Ek sal sy kinders en kleinkinders doodmaak, sodat hulle nooit op Babilon se troon sit nie.

23. Ek maak Babilon verlate, ’n land vir ystervarke, vol moerasse en vleie. Met ’n besem van vernietigingvee Ek die land uit. Ek, die Here, die Almagtige,het so gesê!”

24. Die Here, die Almagtige,het gesweer: “Dit sal gebeur soos Ek dit beplan het, volgens my doel.

25. Ek sal die Assiriërs vertrap wanneer hulle in my land is. Ek sal hulle op my berge verpletter. My volk sal nie langer hulle slawe wees nie.

26. “Ek het ’n plan vir die hele wêreld, want my mag geld oor alle nasies.

27. Die Here, die Almagtige, het besluit, en wie sal sy planne kan verander? Wanneer sy hand beweeg, wie kan dit terugbring?”

28. Hierdie boodskap het ek gekry in die jaar wat koning Agas dood is:

29. Julle Filistyne, moenie bly wordomdat die koning wat julle aangeval het, dood is nie. Want al is die sweep stukkend, sal sy seun erger wees as wat sy pa ooit was. Uit daardie slangsal ’n giftige slang kom, ’n vlieënde draak wat julle sal verbrand.

30. Ek sal die armes op my weiveld laat wei. Die mense met nood sal veilig gaan lê. Maar julle, julle sal in ’n hongersnood uitgewis word. Die bietjie wat oorbly, sal Ek vernietig.

31. Huil, julle Filistynse stede, want julle is verdoem! Smelt inmekaar van vrees, want julle gaan vernietig word! ’n Magtige leër kom uit die noorde. Nie een soldaat deins terug vir die geveg nie.

32. Wat moet ons die boodskappersvan die vyand antwoord? Sê vir hulle die Here het Jerusalem gebou, en Hy sal die armes onder sy volk daar beskerm.

Jesaja 14