6. Selfs as hulle die verwoesting van die Assiriërs ontvlug het, sal hulle in Egipte versamel en in Memfis begrawe word. Doringstruike sal hulle skatte van silwer toegroei en onkruid hulle blyplekke.
7. Die oomblik van Israel se straf het aangebreek. Die dag van vergelding is hier. Israel sal dit deeglik besef. “Die profeet is ’n dwaas!” skree die mense. “Die man van die Gees is van sy kop af!” spot hulle. Dis omdat jou sonde so baie en jou vyandigheid so groot is teenoor hulle wat God dien.
8. My God het die profeet as wagter oor Efraim gestuur, maar oral waar hy gaan, stel hulle valstrikke voor hom. Selfs in die huis van sy God is daar vyandigheid.
9. Hulle dade is net so bedorwe soos destyds by Gibea. God sal dit onthou. Hy sal hulle sekerlik daaroor straf.
10. “Israel, toe Ek jou die eerste keer teëgekom het,” sê die Here, “was dit soos om druiwe in die woestyn te kry. Toe Ek jou voorgeslagte gesien het, was dit soos om die eerste ryp vye van die seisoen te sien. Maar toe hulle by Baäl-Peor kom, het hulle My verlaat en hulle aan daardie skandelike afgod verbind. Hulle het gou net so veragtelik geword soos die afgod wat hulle gedien het.
11. Soos ’n voël wegvlieg, so sal die aansien van Israel verdwyn: daar sal geen kinders, geen swangerskap en geen bevrugting wees nie.
12. Selfs as julle kinders tog bly lewe en grootword, sal Ek hulle van julle wegneem sonder dat een oorbly. Ellende wag vir hulle wanneer Ek wegdraai en hulle alleen agterlaat!
13. Israel was vir My soos Tirus, geplant in ’n weiland. Maar nou sal Israel hulle kinders uitbring om doodgemaak te word.”
14. Gee vir hulle, Here – wat sal U vir hulle gee? Gee vir hulle baarmoeders wat nie geboorte gee nie en borste sonder melk!
15. Die Here sê: “Al hulle boosheid het by Gilgal begin. Daar het Ek hulle begin haat oor hulle bose dade. Ek sal hulle uit my huis verdryf. Ek sal hulle nie meer liefhê nie, want al hulle leiers is in opstand teen My.