Hosea 9:1-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Israel, moenie jou verheug soos ander volke doen nie. Jy was ontrou aan jou God. Jy het die loon van ’n prostituut gesoek deur op elke dorsvloer offers aan ander gode te bring.

2. Daarom sal die dorsvloer en die parskuip te min oplewer om julle te voed en die wynoes sal misluk.

3. Julle mag nie langer in hierdie land van die Here bly woon nie. Israel sal weggeneem word na Egipte toe en in Assirië sal julle leef van kos wat seremonieel onrein is.

4. Daar sal julle nie wyn as ’n offer vir die Here uitgiet nie en niks van julle offers sal Hom aanstaan nie. Sulke offers sal net so onrein wees soos kos uit ’n huis waar daar gerou word: elkeen wat dit eet, sal ook onrein wees. Julle mag dit self eet, maar dit mag nie in die huis van die Here gebring word nie.

5. Wat sal julle dan op feesdae doen, op die feesdae in die teenwoordigheid van die Here?

6. Selfs as hulle die verwoesting van die Assiriërs ontvlug het, sal hulle in Egipte versamel en in Memfis begrawe word. Doringstruike sal hulle skatte van silwer toegroei en onkruid hulle blyplekke.

Hosea 9