Genesis 35:5-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. Terwyl hulle wegtrek, het daar so ’n verskrikking van God oor die mense van die omgewing gekom dat niemand eers gewaag het om Jakob en sy seuns te agtervolg nie.

6. Jakob-hulle het by Lus, nou Bet-El genoem, in Kanaän aangekom.

7. Daar bou hy ’n altaar en noem dit El-Bet-El, want God het hier by Bet-El aan hom verskyn toe hy vir Esau gevlug het.

8. Kort daarna het Debora, die slavin wat vir Rebekka grootgemaak het, gesterf. Hulle het haar onder die groot boom naby Bet-El begrawe. Hulle het dit Huilboom genoem.

9. Na Jakob se terugkeer uit Paddan-Aram het God weer ’n keer aan hom verskyn. God het hom geseën

10. en gesê: “Jou naam is nie langer Jakob nie. Jy sal van nou af Israel genoem word.”

11. God het verder gesê: “Ek is God die Almagtige. Wees vrugbaar en word ’n groot nasie. Baie nasies sal uit jou voortkom. Daar sal selfs konings onder hulle wees.

12. Hierdie land wat Ek vir Abraham en Isak gegee het, gee Ek ook vir jou en jou nageslag.”

13. Daarna het God van Jakob af weggegaan.

14. Jakob het toe ’n klip regop gesit op daardie plek waar God met hom gepraat het. Daarna het hy wyn daaroor uitgegiet en ook olie as ’n offer aan God.

15. Jakob het die plek Bet-El, huis van God, genoem, want God het daar met hom gepraat.

16. Hulle het Bet-El verlaat op pad na Efrata toe, dit is Betlehem. Toe hulle nog ’n ent van hulle bestemming was, was dit Ragel se tyd om geboorte te gee. Dit was ’n baie moeilike bevalling.

17. Toe sy so swaarkry met die bevalling, sê die vroedvrou vir haar: “Moenie bang wees nie. Jy het weer ’n seun!”

18. Maar Ragel was besig om te sterf. Met haar laaste asem noem sy hom Ben-Oni. Sy pa het hom egter Benjamin genoem.

19. Ragel het gesterf en hulle het haar op pad na Efrata, dit is Betlehem, begrawe.

20. Jakob het ’n klip as gedenkteken op die graf gesit. Dit staan vandag nog daar.

21. Daarna het Jakob sy reis voortgesit en kamp opgeslaan by Migdal-Eder.

22. Terwyl hulle in daardie landstreek was, het Ruben by Bilha, sy pa se slavinvrou, geslaap. Jakob het hiervan te hore gekom.Hier volg die name van Jakob se twaalf seuns:

Genesis 35