15. Hy was nog besig om te bid toe ’n meisie met die naam Rebekka daar aankom met ’n waterkruik op haar skouer. Haar pa se naam was Betuel, die seun van Abraham se broer Nahor en sy vrou Milka.
16. Rebekka was ’n besonder mooi meisie en het nog nooit by ’n man geslaap nie. Sy gaan af na die water toe, maak haar kruik vol en kom weer boontoe.
17. Die slaaf hardloop oor na haar toe en vra: “Gee asseblief vir my water om te drink.”
18. “Sekerlik, Meneer, drink gerus,” antwoord sy terwyl sy dadelik die kruik laat sak.
19. Toe hy klaar gedrink het, sê sy vir hom: “Ek sal sommer ook vir u kamele water skep totdat hulle genoeg gehad het!”
20. Sy maak toe gou haar kruik leeg in die drinkbak en gaan vinnig af na die water toe. Sy het aangehou om water vir die kamele aan te dra totdat almal genoeg gedrink het.
21. Die slaaf het haar in stilte dopgehou en gewonder of dit werklik die een is wat die Here beskik het dat hy moes teëkom.
22. Toe die kamele klaar gedrink het, gee hy haar ’n goue ring van ’n halwe sikkel vir haar neus en twee armbande van tien sikkels goud.
23. “Wie se dogter is jy?” vra hy. “Het jou pa dalk plek waar ons vannag kan slaap?”
24. “My pa se naam is Betuel,” antwoord sy. “My oupa en ouma is Nahor en Milka.
25. En ja, ons het genoeg strooi en voer vir die diere, en ook slaapplek.”
26. Toe buig die man neer en aanbid die Here.
27. “Aan die Here, die God van my meester Abraham, kom toe die lof,” sê hy. “Die Here was goed vir my en getrou aan Abraham, want hy het my reguit na my meester se bloedverwante toe gelei.”
28. Die meisie hardloop toe na haar huis toe en vertel haar familie alles wat gebeur het.
29. Rebekka se broer se naam was Laban.
30. Hy het die neusring en die armbande gesien wat sy suster dra, en die storie gehoor wat sy vertel het. Daarom hardloop hy haastig na die fontein toe. Die man het nog daar by sy kamele gestaan. Laban sê vir hom:
31. “Kom saam en bly oor by ons. U is ’n geseënde van die Here. Hoekom sal u hier buitekant die dorp bly staan terwyl ek alreeds vir u slaapplek reggemaak het? Ek het ook plek reg vir u kamele.”
32. Die man gaan toe saam met Laban huis toe. Laban het die kamele afgesaal, vir hulle voer gegee en strooi om op te slaap. Hy het ook vir die slaaf en die mense by hom water gegee om te was.
33. Daarna is aandete bedien. Maar die slaaf sê: “Ek wil nie eet voordat ek vertel het waarom ek hierheen gekom het nie.”“Goed,” sê Laban, “vertel ons wat jy kom doen het.”
34. “Ek is Abraham se slaaf,” verduidelik hy.
35. “Die Here het hom baie geseën sodat hy ryk geword het. Die Here het hom troppe kleinvee en beeste gegee, ’n fortuin aan goud en silwer, en baie slawe, kamele en donkies.