Genesis 14:13-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Iemand wat ontsnap het, het dit vir Abram die Hebreër kom vertel. Abram het by die groot bome van Mamre die Amoriet gewoon. Mamre en sy bloedverwante Eskol en Aner was bondgenote van Abram.

14. Toe Abram hoor Lot is as gevangene weggevoer, het hy die weerbare manne in sy huishouding bymekaargeroep. Daar was 318 van hulle, almal in sy huishouding gebore. Hy het Kedorlaomer se leër agternagejaag en hulle by Dan ingehaal.

15. Daar het hy in die nag sy manskappe verdeel en die invallers van verskillende kante af aangeval. Kedorlaomer se leër het gevlug, maar Abram het hulle tot by Goba, noord van Damaskus, agtervolg.

16. Hy het alles wat geroof is, teruggekry, ook sy neef Lot met sy besittings en al die vroue en ander gevangenes.

17. Toe Abram terugkom van sy oorwinning oor Kedorlaomer en sy bondgenote, het die koning van Sodom hom in die Sawevlakte (dit is die Koningsvallei) tegemoetgegaan.

18. Melgisedek, die koning van Salem, het vir hom brood en wyn gebring. Hy was ook ’n priester van God die Allerhoogste.

19. Melgisedek het Abram geseën en gesê:“Geseënd is Abram deur God die Allerhoogste,die Skepper van hemel en aarde.

20. En geseënd is God die Allerhoogstewat jou bemagtig het om oor jou vyande te seëvier.”Toe gee Abram vir Melgisedek ’n tiende van alles wat hy teruggekry het.

21. Die koning van Sodom sê vir hom: “Gee net my mense terug, maar hou die besittings vir jouself.”

22. Abram antwoord hom toe: “Ek het die Here, God die Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde, plegtig belowe

23. dat ek nie eens ’n garingdraad of ’n skoenveter van jou sal neem nie. Anders kan jy dalk sê: ‘Ek is die een wat vir Abram ryk gemaak het!’

24. Al wat ek sal aanvaar, is die kos wat hierdie manskappe reeds geëet het. Maar gee ’n deel van die buit aan my bondgenote Aner, Eskol en Mamre.”

Genesis 14