Eksodus 38:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Hy het toe die brandofferaltaar van akasiahout gemaak. Dit was vierkantig, elke kant twee en ’n halwe meter breed en die hoogte was een en ’n half meter.

2. Hy het horings aan die vier hoeke aangebring om ’n eenheid met die res te vorm. Hy het toe die altaar met koper oorgetrek.

3. Al die gereedskap wat by die altaar gebruik is, het hy uit koper gemaak. Daar was aspanne, asgrafies, komme, vurke en panne om kole in te dra.

4. Hy het ook ’n rooster van koper gemaak en dit halfpad na onder en reg rondom, onder die rand, vasgesit.

5. Verder het hy vier ringe van koper gemaak en aan die kante vasgesit. Die drapale moes deur die ringe gaan sodat die altaar gedra kon word.

6. Die drapale het hy van akasiahout gemaak en met koper oorgetrek.

7. Die drapale is deur die ringe aan die kant van die altaar gesteek. Die altaar self was hol van binne. Dit is uit geskaafde plank gemaak.

8. Besaleël-hulle het die waterbak en sy voetstuk uit koper gemaak. Die koper was afkomstig van die waterspieëls wat die vroue geskenk het wat by die ingang van die tabernakel gewerk het.

9. Hy het ook die binnehof gemaak. Die suidekant was van fyn linne gemaak, 44 meter lank.

10. Daar was twintig regop pale met voetstukke van koper, en tussenin was daar silwergordynrelings en -hakies waaraan die gordyne gehang het.

11. Aan die noordekant was daar ook gordyne, 44 meter lank. Dit het ook twintig regop pale met voetstukke van koper en silwergordynrelings en -hakies gehad.

12. Die gordyne aan die westekant was 23 meter lank. Dit was ook van fyn linne gemaak. Hier was daar tien regop pale op voetstukke van koper. Die relings en hakies was ook van silwer.

Eksodus 38