13. Hy wil dit vandag bo alle twyfel stel dat julle sy volk is en dat Hy julle God is, net soos Hy dit aan julle voorouers Abraham, Isak en Jakob belowe het.
14. Die Here sluit nie net met julle ’n verbond met al sy verpligtings nie.
15. Die Here julle God sluit hierdie verbond met julle wat vandag hier in sy teenwoordigheid is, maar ook met al die toekomstige geslagte van Israel.
16. “Julle onthou tog hoe ons in die land Egipte gebly het en deur die lande van vyandelike nasies getrek het toe ons Egipte verlaat het.
17. Julle het hulle afskuwelike afgode gesien wat van hout, klip, silwer en goud gemaak is.
18. Die Here het sy verbond met julle gesluit sodat geen man, vrou, familie of stam onder julle van die Here julle God sal wegdraai om hierdie gode van die ander nasies te aanbid nie, en sodat daar geen wortel onder julle mag wees wat bitter en giftige vrugte dra nie.
19. Laat niemand van julle wat die waarskuwings van hierdie eed hoor, hulleself alte hoog ag en by hulleself dink: ‘Ek is veilig, selfs al hou ek aan om my eie harde kop te volg,’ nie. Dit sal net tot verwoesting lei.
20. Die Here sal sulke mense nie vergewe nie. Sy woede en sy wrewel sal teen hulle opvlam. Al die vervloekings wat in hierdie boek beskryf is, sal oor hulle kom en die Here sal hulle name onder die hemel uitwis.
21. Die Here sal hulle van al die stamme van Israel afsonder sodat al die rampe hom kan tref volgens die vervloekings van die verbond wat opgeskryf is in hierdie boek van die gebooie.
22. “Dan sal die geslagte wat kom, julle kinders wat ná julle kom, en die vreemdelinge wat van ver lande af kom, die verwoesting van die land en siektes sien wat die Here teen hierdie land stuur.
23. Hulle sal vind dat die grond in swael en sout verander, met niks wat geplant kan word en niks wat kan groei nie, selfs nie eers ’n groen blaartjie nie. Dit sal net soos Sodom en Gomorra, Adma en Sebojim wees wat die Here in sy woede vernietig het.
24. Die naburige nasies sal vra: ‘Waarom het die Here so met hierdie land gemaak? Wat het Hom so kwaad gemaak?’
25. “Hulle sal ingelig word: ‘Dit het gebeur omdat die volk van die land die verbond verbreek het wat die Here, die God van hulle voorouers, met hulle gesluit het toe Hy hulle uit Egipte gelei het.
26. Hulle het ander, vreemde gode gaan dien en aanbid, gode wat hulle nie geken het nie en wat ook nie vir hulle bedoel was nie.
27. Dit is waarom die Here se woede teen hierdie land ontbrand het en hoekom Hy al die vervloekings wat in hierdie boek beskryf is, oor die land gebring het.
28. Die Here was so woedend dat Hy sy volk uit die land geruk het en hulle in ballingskap in ’n ander land gaan gooi het, waar hulle vandag nog leef!’
29. “Die geheime dinge is vir die Here ons God. Die dinge wat wel bekendgemaak is, vir ons en ons nageslag vir altyd sodat ons kan lewe volgens die woorde van hierdie gebooie.”