Deuteronomium 12:4-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. “Moenie die Here julle God aanbid op dieselfde manier waarop die heidense nasies hulle gode aanbid nie.

5. Julle moet die Here julle God soek by die plek wat Hyself sal kies uit al die stamme dat sy Naam daar geëer kan word.

6. Daarheen moet julle vir die Here julle brandoffers, ander offers, julle tiendes, julle gawes, julle gelofte-offers, julle vrywillige offers en die eerstelinge uit julle bees- en skaaptroppe bring.

7. Daar moet julle en julle families saam feesvier in die teenwoordigheid van die Here julle God. Daar sal julle kan bly wees oor alles wat julle gedoen het omdat die Here julle God julle geseën het.

8. “Julle moenie optree soos wat ons vandag hier maak, waar elkeen doen wat reg is in sy eie oë nie,

9. want tot nou toe het julle nog nie aangekom by die rusplek en erfdeel wat die Here julle God aan julle gee nie.

10. Julle sal binnekort die Jordaanrivier oorsteek en gaan lewe in die land wat die Here julle God aan julle as ’n besondere besitting gee. Daar sal Hy julle rus gee van al julle vyande rondom julle en julle veilig laat woon.

11. Daar is die plek wat die Here julle God uitgekies het vir die eer van sy Naam. Dit is die plek waarheen julle alles moet bring soos beveel is: brandoffers, ander offers, tiendes, julle gawes en julle gelofte-offers.

12. Daar moet julle saam met julle kinders en julle werknemers in die teenwoordigheid van die Here julle God feesvier. Onthou die Leviete wat in julle dorpe woon, want hulle het nie ’n deel van die land as hulle eie ontvang nie.

13. Wees versigtig om nie julle brandoffers sommer op enige plek te offer nie.

14. Julle mag julle brandoffers net op die plek bring wat die Here binne die gebied van een van die stamme sal kies. Daar moet julle julle brandoffers bring en alles doen wat julle beveel is.

15. “Maar julle mag diere vir hulle vleis slag in enige dorp waar ook al, net soos wat julle nou maak met ribbokke en takbokke. Julle mag soveel diere eet soos wat die Here julle God vir julle gee. Almal van julle, rein of onrein, mag die vleis eet.

16. Die enigste beperking is dat julle nie van die bloed mag eet nie. Julle moet dit soos water op die grond uitgooi.

17. “Maar julle offers mag nie by julle huise geëet word nie – nie die tiendes van julle graan of wyn of olyfolie nie, ook nie die eersgeborenes van julle bees- of skaaptroppe nie, ook nie ’n gelofte-offer of ’n vrywillige offer of enige spesiale gawe nie.

18. Julle moet dit daar in die teenwoordigheid van die Here julle God gaan eet op die plek wat die Here julle God sal kies. Eet die offers saam met julle kinders, julle werknemers en die Leviete wat in julle dorpe woon. Juig voor die Here julle God oor alles wat julle doen.

19. Wees versigtig om nie die Leviete te vergeet so lank as wat julle in julle land lewe nie.

Deuteronomium 12