10. Amasa het nie die swaard in sy ander hand raakgesien nie. Joab het hom toe daarmee deur sy onderlyf gesteek sodat sy ingewande op die grond uitgeval het. Dit was nie nodig om ’n tweede keer te steek nie. Joab en sy broer Abisai het toe vir Seba agtervolg.
11. Een van Joab se manne het daar bly staan en gesê: “Wie aan die kant van Joab is en wie vir Dawid is, kom agter Joab aan!”
12. Amasa het egter nog in die middel van die pad in sy bloed gelê en krul. Toe die man sien dat die soldate daar gaan bly staan, sleep hy Amasa uit die pad en gooi ’n kleed oor hom, want hy het besef dat elkeen wat verbykom daar sou stilstaan.
13. Met Amasa uit die pad, het almal saam met Joab vir Seba seun van Bikri agtervolg.
14. Intussen het Seba deur die gebied van al die stamme van Israel getrek tot by Abel Bet-Maäka. Die Beriete het bymekaargekom en hom tot in die stad gevolg.
15. Toe Joab met sy soldate daar aankom, het hulle Abel Bet-Maäka beleër. Hulle het ’n beleëringswal teen die stad gebou. Dit was alreeds tot teen die muur. Almal by Joab was besig om deur die dorp se muur te breek.
16. Maar ’n wyse vrou het uit die stad geroep en gesê: “Luister! Luister tog na my! Sê asseblief vir Joab: ‘Kom hierheen sodat ek met jou kan praat.’”
17. Toe Joab naderkom, vra die vrou: “Is jy Joab?”“Ja, ek is Joab,” antwoord hy.Sy sê toe: “Luister goed na wat ek sê.”“Ek luister,” sê hy.
18. Sy het voortgegaan: “Voorheen was daar ’n spreekwoord: ‘Vra gerus raad by Abel’ en dan het hulle daarvolgens opgetree.
19. Ons is van die vreedsames en getroues in Israel. Maar jy is besig om ’n getroue stad wat in Israel hoogaangeskrewe is, te vernietig. Hoekom wil jy dit wat aan die Here behoort, vernietig?”
20. Joab het geantwoord: “Glo my, dis nie wat ek wil doen nie! Nee, ek wil nie julle stad vernietig nie.
21. Al wat ek soek, is ’n man met die naam Seba seun van Bikri uit die Efraimsberge. Hy het in opstand gekom teen koning Dawid. As julle hom aan ons uitlewer, sal ons die stad in vrede laat.”“Dis goed so,” antwoord die vrou. “Let op! Ons sal sy kop vir julle oor die muur gooi.”
22. Die vrou gaan toe na die inwoners met haar wyse raad. Hulle het Seba seun van Bikri se kop afgekap en dit oor die muur na Joab toe gegooi. Toe het hy op die ramshoring laat blaas en die soldate het uitmekaargegaan, elkeen na sy huis toe. Joab het teruggegaan na die koning in Jerusalem.
23. Joab is weer herstel in sy pos as bevelvoerder van die leër van Israel. Benaja seun van Jojada was bevelvoerder van Dawid se Filistynse lyfwag.