2 Kronieke 33:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Manasse was twaalf jaar oud toe hy koning geword het en hy het 55 jaar in Jerusalem regeer.

2. Hy het gedoen wat vir die Here verkeerd was deur die afskuwelike praktyke van die heidense nasies na te volg. Die Here het hulle voor die Israeliete uit die land verdryf.

3. Hy het die heidense heiligdomme herbou wat sy pa Hiskia vernietig het. Hy het altare vir die Baälbeelde gebou en Asjerapale opgerig. Hy het ook voor al die hemelliggame gebuig en hulle aanbid.

4. Hy het selfs heidense altare gebou in die tempel van die Here, die plek waarvan die Here gesê het dat sy Naam altyd daar in Jerusalem sou wees.

5. Hy het altare vir die hemelliggame in elkeen van die twee voorhowe van die Here se tempel gebou.

6. Manasse het selfs sy eie seuns in die Ben-Hinnomdal deur vuur laat gaan. Hy het goëlery, waarsêery en towery beoefen, en mediums en spiritiste geraadpleeg. Hy het baie gruwelike dade voor die Here gedoen en so sy toorn opgewek.

7. Manasse het ’n afgodsbeeld opgerig in die tempel van die Here, die plek waarvan God vir Dawid en sy seun Salomo gesê het: “My Naam sal vir altyd vereer word in hierdie tempel en in Jerusalem, die stad wat Ek onder al die ander stamme van Israel gekies het.

8. As die Israeliete my gebooie, al my riglyne, opdragte en bepalings gehoorsaam wat aan Moses gegee is, sal Ek hulle nie in ballingskap stuur uit hierdie land wat Ek aan hulle voorouers gegee het nie.”

9. Maar Manasse het Juda en die inwoners van Jerusalem laat dwaal sodat hulle selfs meer boosheid gepleeg het as die heidense nasies wat die Here uitgeroei het toe die Israeliete in die land aangekom het.

10. Die Here het met Manasse en sy volk gepraat, maar hulle het al sy waarskuwings geïgnoreer.

11. Daarom het die Here die Assiriese leërs teen hulle gestuur en hulle het Manasse gevange geneem. Hulle het ’n ring deur sy neus gesit, hom met bronskettings vasgemaak en na Babel toe gevat.

2 Kronieke 33