2 Korintiërs 10:8-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. As ek moontlik oordrewe trots voorgekom het op die volmag wat die Here aan my gegee het, sal ek my nie daarvoor skaam nie. Dit was om julle op te bou, en nie om julle af te breek nie.

9. Ek wil beslis nie die indruk skep dat ek julle met my briewe probeer intimideer nie.

10. Hulle sê mos: “Paulus se briewe is gewigtig en kragtig, maar as hy persoonlik teenwoordig is, is hy maar onindrukwekkend en het sy boodskap maar min om die lyf.”

11. Hulle wat dit kwytraak, moet besef dat daar geen verskil is tussen wat ons in ons afwesigheid in die briewe skryf en wat ons doen as ons by julle teenwoordig is nie.

12. Ons waag dit nie om ons in te deel of te vergelyk met “sekere mense” wat hulleself aanbeveel nie. Hulle het regtig nie insig nie; hulle meet hulleself aan hulle eie maatstaf en vergelyk hulleself net onder mekaar.

13. Wat ons betref, ons sal nie buite perke trots wees nie. Ons bly binne die perk van die grense wat God vir ons uitgemeet het. Dié begrensing sluit julle óók in.

14. Ons het dus nie ons perke oorskry deur tot by julle te kom nie. Ons het tog heel eerste tot by julle gekom met die Goeie Nuus van Christus.

15. Ons is nie buite perke trots nie, dit wil sê, ons spog nie oor ander mense se optredes nie. Ons hoop dat julle geloof sal toeneem en dat ons werkterrein onder julle nog groter sal word.

16. Dan sal ons die Goeie Nuus ook in gebiede kan preek wat anderkant julle geleë is, sonder om te roem op werk wat gedoen is in die werkkring van iemand anders.

2 Korintiërs 10