2. Daarna het al meer mense wat in die moeilikheid was, of hulle skuld nie kon betaal nie, of oor iets ontevrede was, by hom aangesluit. Mettertyd was Dawid die leier van omtrent 400 man.
3. Dawid het intussen die koning van Moab in Mispa besoek en vir hom gevra: “Mag my ouers hier by julle kom woon totdat ek weet wat God met my gaan doen?”
4. Die koning het ingestem en Dawid se ma en pa het tydens Dawid se verblyf in die bergskuiling in Moab gewoon.
5. Die profeet Gad sê op ’n dag vir Dawid: “Moenie in die bergskuiling bly nie. Gaan terug na Juda toe.” Dawid gaan toe na die Geretbos.
6. Die nuus van sy aankoms in Juda het gou Saul se ore bereik. Saul het onder ’n tamariskboom op die hoogte by Gibea gesit met sy spies in sy hand en sy offisiere rondom hom.
7. “Luister hier, manne van Benjamin!” roep Saul uit toe hy die nuus hoor. “Sal die seun van Isai ook vir julle landerye en wingerde gee? Sal hy julle hoofde oor duisend en oor honderd in sy leër maak?
8. Julle het almal teen my saamgesweer! Nie een van julle het my vertel dat my eie seun met die seun van Isai teen my saamgesweer het nie. Julle is nie eens jammer vir my nie. Dink daaraan! My eie seun hits my onderdaan aan om my dood te maak!”
9. Toe antwoord Doëg die Edomiet wat oor Saul se veewagters aangestel was. “Toe ek in Nob was,” sê hy, “het ek gesien die seun van Isai praat met die priester Agimelek seun van Agitub.
10. Agimelek het die Here vir Dawid geraadpleeg om te hoor wat Dawid moes doen. Boonop het hy ook brood en die swaard van Goliat die Filistyn vir Dawid gegee.”
11. Die koning het dadelik Agimelek seun van Agitub en sy hele familie in Nob laat roep.
12. Daar aangekom, sê Saul: “Luister, seun van Agitub!”“Ek luister, o Koning,” antwoord Agimelek.
13. “Hoekom het jy en die seun van Isai teen my saamgesweer?” vra Saul. “Hoekom het jy vir hom brood en ’n swaard gegee? Hoekom het jy God vir hom geraadpleeg en hom aangemoedig om teen my in opstand te kom sodat ek nou deur hom bedreig word?”
14. “Maar, Koning,” verweer Agimelek hom, “daar is tog niemand onder u amptenare wat so betroubaar is as u skoonseun Dawid nie. Hy is dan die aanvoerder van u lyfwag en ’n geëerde lid van u huishouding!
15. Dis tog nie die eerste keer dat ek God vir hom geraadpleeg het nie. Moet asseblief nie my en my familie hiervan beskuldig nie, want ek het absoluut niks geweet van ’n komplot teen u nie.”
16. “Jy sal sekerlik sterf, Agimelek, jy en jou hele familie!” roep die koning uit.
17. Toe beveel hy die lyfwagte rondom hom: “Maak die priesters van die Here dood, want hulle is kop in een mus met Dawid. Hulle het geweet dat hy van my af vlug, maar het my nie laat weet nie!” Maar Saul se wagte het geweier om die priesters van die Here dood te maak.