1 Konings 11:11-30 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

11. יהוה het vir Shlomo gesê: “Omdat jy dit gedoen het en nie My verbond en My instellings, wat Ek jou beveel het, gehou het nie, sal Ek sekerlik die koninkryk van jou af wegskeur en dit aan jou dienskneg gee.

12. Nogtans sal ek dit nie in jou dae doen nie ter wille van jou vader, Dawid, maar Ek sal dit uit die hand van jou seun skeur.

13. Tog sal Ek nie die hele koninkryk wegskeur nie, maar Ek sal een stam aan jou seun gee ter wille van My dienskneg, Dawid en ter wille van Yerushalayim wat Ek verkies het.”

14. Toe het יהוה vir Shlomo ’n teëstander opgewek: Hadad, die Edomiet; hy was van die koninklike familie in Edom.

15. Dit het gebeur toe Dawid in Edom was en Yo’av, die bevelvoerder van die leër, opgetrek het om die gesneuweldes te begrawe en hy al wat manlik was in Edom doodgeslaan het

16. (want Yo’av en die hele Yisra’el het ses maande lank daar gebly totdat hy al die manlike persone in Edom afgesny het)

17. dat Hadad, as ’n jong seun, na Mitzrayim gevlug het; hy en sekere Edomiete van sy vader se diensknegte saam met hom.

18. Hulle het opgestaan vanuit Midyan en in Pa’ran gekom en vanuit Pa’ran manne saam met hulle gevat en in Mitzrayim aangekom by Farao, die koning van Mitzrayim, wat vir hom ’n huis en kos gegee het en vir hom land gegee het.

19. Hadad het groot guns gevind voor Farao sodat hy vir hom sy vrou se suster, die suster van Tagp’neis, die koningin, as vrou gegee het.

20. Die suster van Tagp’neis het vir hom geboorte gegee aan sy seun G’nuvat, wat Tagp’neis in die huis van Farao groot gemaak het en G’nuvat was in die huis van Farao tussen die seuns van Farao.

21. Toe Hadad egter in Mitzrayim hoor dat Dawid by sy vaders neergelê is en dat Yo’av, die bevelvoerder van die leër, dood is, sê Hadad vir Farao: “Stuur my weg dat ek na my eie land kan gaan.”

22. Toe sê Farao vir hom: “Maar wat het jy by my tekort, let op, dat jy begeer om na jou eie land te gaan?” Hy antwoord: “Niks nie; nogtans moet u my sekerlik laat gaan.”

23. God het ook ’n ander teëstander teen hom opgewek, Rezon, die seun van Elyada, wat gevlug het van sy meester Hadad’ezer, die koning van Tzovah.

24. Nadat Dawid hulle by Tzovah gedood het, het hy manne by hom versamel en leier van ’n plunderbende geword en hulle het na Dammesek gegaan en daar gebly en in Dammesek geheers.

25. Hy was ’n teëstander van Yisra’el al die dae van Shlomo, saam met die boosheid wat Hadad gedoen het en hy het Yisra’el verafsku en oor Aram geheers.

26. Toe het Yarov’am, ’n dienskneg van Shlomo, die seun van N’vat, ’n Efrayimiet uit Tz’redah, wie se moeder se naam Tz’ru’ah was, ’n weduwee, ook teen die koning rebelleer.

27. Dít was die rede hoekom hy teen die koning rebelleer het: Shlomo het Millo gebou en die skeur aan die stad van sy vader, Dawid, toegemaak.

28. Die man Yarov’am was ’n dapper soldaat en toe Shlomo sien dat die jongman ywerig en hardwerkend was, het hy hom aangestel oor al die dwangarbeiders van die huis van Yosef.

29. Dit het omtrent in daardie tyd gebeur, toe Yarov’am uit Yerushalayim uitgaan dat die profeet Agiyah, die Shiloniet, hom op die pad kry. Agiyah het homself geklee in ’n nuwe mantel en hulle twee was alleen in die veld.

30. Toe gryp Agiyah die nuwe mantel wat hy aangehad het en skeur dit in twaalf stukke.

1 Konings 11