Numeri 14:36-37-45 Die Boodskap (DB)

4. Hulle het toe onder mekaar begin planne maak: “Kom ons kies vir ons ’n nuwe leier wat ons sal terugvat Egipte toe.”

5. Moses en Aäron het uit pure moedeloosheid op hulle knieë voor die volk gaan staan.

6. Maar Nun se seun Josua en Jefunne se seun Kaleb, twee van die leiers wat saam was Kanaän toe, het van hartseer hulle klere stukkend geskeur

7. en vir die hele vergadering wat daar bymekaar was, gesê: “Dit is ’n ongelooflike mooi land waarna ons gaan kyk het.

8. As die Here tevrede met ons is, sal Hy ons help om hierdie land in te neem en daar te gaan bly. Soos ons vroeër vir julle gesê het: dit is ’n land waar dit lyk of die melk en heuning oral in strome loop.

9. Moet asseblief nie die Here se gesag nou uitdaag nie. Moet ook nie vir die land en sy inwoners bang wees nie, ons kan hulle maklik oorrompel. Hulle afgode waarop hulle staatmaak, sal hulle nie kan help nie, want die Here is aan ons kant. Moenie vir daardie spul bang wees nie!”

36-37. Die Here het toe die tien spioene wat die volk met hulle bangmaakstories om die bos gelei en teen Hom in opstand laat kom het, net daar laat doodgaan. ’n Vreemde siekte het hulle dood veroorsaak.

38. Van al twaalf spioene het net Josua en Kaleb oorgebly.

39. Toe Moses die Here se woord aan die volk oorgedra het, het hulle verskriklik begin huil van skok en spyt.

40. Vroeg die volgende oggend het hulle kamp opgebreek en na die berge noord van hulle begin trek met die idee om die land van daar af in te neem. Hulle het besluit om op te trek na die land toe wat die Here beloof het.

41. Moses het hulle probeer keer en vir hulle gevra: “Waarom wil julle al weer nie na die Here luister nie? Julle gaan nie regkry wat julle beplan nie.

42. Moenie die land probeer inneem nie, want die Here keur nie julle planne goed nie. Daarom is Hy nie by julle nie. Julle vyande gaan julle platloop.

43. Die Amalekiete en Kanaäniete wag vir julle. Hulle gaan julle doodmaak. Die Here is nie saam met julle in die geveg nie, julle het dan die rug vir Hom gedraai.”

44. Maar die volk het hierdie waarskuwing geïgnoreer. Moses en die ark van die Here het toe nie saam met hulle gegaan toe hulle na die noordelike dele van die bergagtige gebied toe opgeruk het nie.

45. Die Amalekiete en Kanaäniete wat in daardie gebied gebly het, het hulle aangeval en hulle ’n verpletterende neerlaag toegedien. Hulle het die Israeliete tot by Gorma teruggedryf.

Numeri 14