14. Intussen het die res van die geselskap van Perge na die stad Antiogië in Pisidië vertrek. Met hulle aankoms het hulle op die sabbatdag na die Joodse aanbiddingsplek gegaan.
15. Nadat die voorganger in die sinagoge uit die Ou Testament voorgelees het, het die hoofde van die sinagoge vir Paulus en Barnabas gevra: “Vriende, ons sien julle is nuut hier. Het julle nie iets op die hart wat julle vir ons wil vertel nie? Dalk ’n woord om ons moed in te praat?”
16. Paulus het opgestaan en vir almal in die sinagoge beduie om stil te bly. Toe sê hy vir hulle: “Geagte volksgenote, ek kom agter dat julle groot respek vir God het. Daarom moet julle nou baie mooi luister.
17. God het ons voorvaders baie jammer gekry. Daarom het Hy hulle as sy volk uitgekies. Toe hulle nog slawe en vreemdelinge in Egipte was, het Hy hulle daar gaan uithaal en van hulle ’n groot volk gemaak.
18. Veertig jaar lank het Hy vir hulle in die woestyn gesorg.
19. Daarna het Hy sewe volke in Kanaän vernietig en hulle grond aan ons voorouers gegee.
20. Gedurende hierdie tyd van sowat 450 jaar het God ’n hele klomp rigters aangestel om sy volk te lei totdat die profeet Samuel op die toneel verskyn het.
21. “In Samuel se tyd wou die volk ’n koning hê om oor hulle te regeer. God het Saul, die seun van Kis uit die stam van Benjamin, as koning aangestel. Hy het 40 jaar lank regeer.
22. Nadat God hom van die toneel verwyder het, het Hy Dawid as die nuwe koning aangewys. God het van hom gesê: ‘Ek het oral gesoek totdat ek Dawid, Isai se seun, gekry het. Hy is iemand so reg na my hart. Hy sal alles doen wat Ek vir hom sê.’
23. “Uit Dawid se nageslag het God ’n Redder vir Israel laat voortkom. Sy naam is Jesus.
24. Net voor Hom het Johannes die Doper daar in Galilea opgetree. Hy het vir die volk gesê dat hulle hulle sondes moet laat staan en hulle tot God moet bekeer. Diegene wat bereid was om dit te doen, is toe deur hom gedoop.
25. Toe Johannes amper klaar was met sy werk, het hy gesê: ‘Dink julle dat ek die Een, die Gestuurde van God is? Wel, julle is verkeerd. Ek is nie Hy nie. As ek klaar is met my werk, sal hierdie Een op die toneel verskyn. Hy is so belangrik dat ek nie eens werd is om die werk van ’n slaaf vir Hom te doen deur sy skoene vir Hom vas te maak nie.’”
26. “Broers, julle is Abraham se nageslag. Julle is die mense wat groot respek vir God het. Weet julle, hierdie boodskap van verlossing is spesiaal vir julle bedoel.