1 Samuel 26:1-14 Bybel vir Almal (ABA)

1. Mense van die stad Sif het na Saul toe gegaan in Gibea. Hulle het vir hom gesê: “Dawid kruip weg op die Gakila-berg naby die droë woestyn.”

2. Saul het gereedgemaak en hy het na die Sif-woestyn gegaan. Daar was 3 000 manne by hom, hy het hulle gekies uit die Israeliete. Hy wou vir Dawid gaan soek in die Sif-woestyn.

3. Saul het sy tente opgeslaan op die Gakila-berg naby die droë woestyn. Die tente was langs die pad. Dawid het in die woestyn gebly, en toe hy hoor dat Saul hom daar kom soek het,

4. het hy mense gestuur om te kyk of Saul regtig gekom het.

5. Dawid het toe gereedgemaak en hy het na die plek gegaan waar Saul se kamp was. Hy het gesien waar Saul en Abner lê en slaap. Abner, die hoof van die leër, was die seun van Ner. Saul het in die kamp gelê, en die manne het rondom hom gelê.

6. Dawid het vir Agimelek van die stad Gat en vir Abisai, seun van Seruja en broer van Joab, gevra: “Wie sal saam met my na Saul se kamp gaan?”Abisai het gesê: “Ek sal saam met jou gaan.”

7. Dawid en Abisai het in die nag by Saul se manne gekom. Saul het daar in die kamp gelê en slaap. Sy spies het regop gestaan naby sy kop. Abner en die manne het rondom hom gelê.

8. Toe sê Abisai vir Dawid: “God het jou vandag gehelp om jou vyand te vang. Ek sal hom met my spies in die grond vassteek. Ek sal dit net een maal doen, dan sal hy dood wees.”

9. Maar Dawid het vir Abisai gesê: “Moenie hom doodmaak nie. As iemand iets doen teen die gesalfde van die Here, dan moet hy weet die Here sal hom straf.

10. Ek weet, so seker soos die Here lewe, die Here sal Saul laat sterf, of Saul sal sterf wanneer dit sy tyd is, of hy sal oorlog toe gaan en sterf.

11. Nee, ek sal nie iets doen teen die gesalfde van die Here nie. Maar kom ons neem die spies wat by sy kop staan en die waterkruik en dan loop ons.”

12. Dawid het die spies en die waterkruik by Saul se kop geneem, en hulle het geloop. Niemand het dit gesien of iets gehoor en wakker geword nie. Almal het geslaap, die Here het hulle baie vas laat slaap.

13. Dawid het na die ander kant van die vallei gegaan en hy het op die berg gaan staan, ver van Saul en sy manne.

14. Dawid het vir Saul se manne en vir Abner seun van Ner geskree: “Abner, kan julle my hoor?”Abner het geantwoord en gevra: “Wie is jy? Hoekom roep jy die koning?”

1 Samuel 26