6. Die familiehoofde wou graag iets gee, en ook die stamhoofde, die leiers van 1 000 manne en die leiers van 100 manne, en die amptenare wat die werk vir die koning moes laat doen.
7. Hulle het 5 000 talente goud gegee vir die werk by die tempel en ook 10 000 darieke goud, 10 000 talente silwer, 18 000 talente brons en 100 000 talente yster.
8. Almal wat edelstene gehad het, het dit gegee vir die stoorkamers van die tempel. Jegiël van die Gerson-familie het dit daar opgepas.
9. Die mense was bly omdat die leiers al die goed gegee het, want al die leiers wou dit graag vir die Here gee. Koning Dawid was ook baie bly.
10. Dawid het die Here geprys. Die hele volksvergadering het dit gehoor. Dawid het gesê: “Here, God van ons voorvader Israel, almal moet U prys, altyd en altyd.
11. Alles wat belangrik is, alles wat sterk is, al die lig behoort aan U. Almal weet van U, die Koning in die hemel en op die aarde. Here, U is Koning, U is belangriker as almal en alles.
12. U maak mense ryk en U gee vir hulle eer, dit is Ú wat oor alles regeer. U is sterk en U kan alles doen, en dit is U wat ’n mens groot en sterk kan maak.
13. Daarom prys ons U, ons God, ons sing oor u wonderlike Naam.
14. Maar wie is ek en wie is my volk wat hierdie goed vir U kan bring? Ons bring dit vir U, maar alles kom van U, en ons gee weer vir U die goed wat aan U behoort.
15. Want ons is soos ons voorvaders, ons is ook soos vreemdelinge by U. Ons is naby U omdat U sê ons mag naby U wees. Ons lewe op die aarde is soos ’n skaduwee, dit gaan gou verby.
16. Ons God die Here, ons het al hierdie goed gereedgemaak om ’n tempel te bou vir U, die heilige God, maar al hierdie goed kom van U, alles behoort aan U.
17. My God, ek weet dat U ’n mens se hart toets en dat U wil hê ’n mens moet eerlik wees. Ek het self besluit om al hierdie goed vir U te gee, en ek het nou gesien dat u volk wat hier is, dieselfde gedoen het. Ek is bly daaroor.
18. Here, God van ons voorvaders Abraham, Isak en Israel, U moet u volk help om altyd so te dink, hulle moet net aan U dink.
19. En help my seun Salomo sodat hy met sy hele hart gehoorsaam sal wees aan u gebooie, aan alles wat U gesê het. Help hom sodat hy dit alles sal doen en sodat hy die paleis vir U sal bou, ek het alles daarvoor gereedgemaak.”
20. Daarna het Dawid vir die hele volksvergadering gesê: “Julle moet nou julle God die Here prys.”Toe het die hele vergadering die Here, die God van hulle voorvaders, geprys. Hulle het voor die Here en voor die koning gekniel en laag gebuig.
21. Die volgende dag het hulle vir die Here offers gebring. Hulle het brand-offers vir die Here gebring. Hulle het 1 000 bulle, 1 000 skaap-ramme en 1 000 lammers saam met die drank-offers gebring. Al die Israeliete het ook nog baie offers gebring.