7. Josef het ook sy pa Jakob gebring en hom aan die farao voorgestel. Toe Jakob hom gegroet het,
8. vra hy vir Jakob: “Hoe oud is u?”
9. Jakob het vir hom gesê: “Ek is nou al honderd en dertig jaar 'n vreemdeling hier op aarde. In vergelyking met dié van my voorvaders is dit maar min, en my lewensjare was vol swaarkry.”
10. Toe groet Jakob die farao en vertrek.
11. Josef het sy pa en broers in Rameses laat woon. Hy het vir hulle in die beste deel van Egipte eiendom gegee soos die farao hom beveel het.
12. Hy het sy pa en broers, sy hele familie met kinders en al, van kos voorsien.
13. Daar was nêrens meer kos in die land nie, want die hongersnood was swaar. Al die mense van Egipte en Kanaän het daaronder gely.
14. Josef het ál die geld van die land in die hande gekry toe die mense van Egipte en Kanaän daarmee kom graan koop het. Hy het die geld na die farao se paleis toe gevat.
15. Maar toe die geld in Egipte en in Kanaän opraak, het al die Egiptenaars vir Josef kom sê: “U moet vir ons kos laat kry. Waarom moet ons hier voor u doodgaan net omdat ons nie geld het nie?”
16. Josef het vir hulle gesê: “As julle geld op is, moet julle maar julle vee bring, dan gee ek vir julle kos in ruil daarvoor.”
17. Toe bring hulle hulle vee vir Josef, en hy gee vir hulle kos in ruil vir perde en kleinvee en beeste en donkies. Daardie jaar het hy hulle van kos voorsien in ruil vir al hulle vee.
18. Aan die einde van daardie jaar, en die volgende jaar, het die mense weer by Josef gekom en vir hom gesê: “Ons kan dit nie vir Meneer wegsteek nie: ons geld is op en u besit reeds al ons vee. Ons het niks meer oor om vir u te bring nie, net onsself en ons grond.
19. Waarom moet ons voor u oë doodgaan? Hier is ons, en daar is ons grond. Koop ons en koop ons grond in ruil vir kos. Ons sal die farao se slawe word en ons grond sal syne wees. Gee vir ons saad dat ons aan die lewe kan bly. En as ons nie sterf nie, sal ons grond nie onbewerk bly lê nie.”
20. So het Josef al die grond vir die farao opgekoop. Al die Egiptenaars het hulle lande verkoop, want die hongersnood het hulle swaar gedruk. Die land het aan die farao behoort,
21. en die volk het van die een uithoek van Egipte tot by die ander uithoek na die stede toe gekom, na Josef toe.
22. Hy het net nie die priesters se grond gekoop nie, want hulle het 'n vaste inkomste van die farao gekry en hiervan het hulle geleef. Daarom het hulle nie hulle grond verkoop nie.