Esegiël 40:38-49 Afrikaans 1983 (AFR83)

38. Daar was 'n vertrek met sy deuropening in die toegangsportaal van die noordelike binnepoort. Dit is waar die brandoffers afgespoel is.

39. In die toegangsportaal was daar aan weerskante twee tafels waarop die diere vir die brandoffer, die sondeoffer en die skuldoffer afgeslag is.

40. Buite langs die toegangsportaal, by die noordelike poortingang, was daar twee tafels, en aan die ander kant van die toegangsportaal was daar ook twee tafels.

41. Daar was dus aan weerskante van die poortingang vier tafels, altesaam ag, en die slagwerk is op hulle gedoen.

42. Daar was vir die brandoffer vier tafels van gekapte klip, elkeen 'n driekwart meter in die vierkant en 'n half meter hoog. Die gereedskap waarmee die offerdiere geslag is, is gebêre op

43. lyste van 'n kwart meter breed wat rondom teen die gebou aangebring is, en die vleis vir die offers is op die tafels neergesit.

44. Buitekant die binneste poort, in die binneste voorhof, was die vertrekke van die sangers. Die vertrekke was teen die noordpoort en het suid gekyk. Daar was ook teen die oospoort 'n vertrek, wat noord gekyk het.

45. Die man het vir my gesê: “Een vertrek wat suid kyk, is bedoel vir die priesters wat in die tempel diens doen.

46. Die vertrek wat noord kyk, is bedoel vir die priesters wat by die altaar diens doen. Net die Levitiese priesters uit die geslag van Sadok kan na die altaar toe kom om die diens aan die Here te verrig.”

47. Die man het die voorhof gemeet. Dit was vyftig meter in die vierkant. Die altaar was voor die tempel.

48. Daarna het hy my na die voorportaal van die tempel toe gebring en die mure weerskante van die portaal se ingang gemeet. Hulle was twee en 'n half meter lank aan weerskante. Die ingang was een en 'n half meter breed aan weerskante.

49. Die portaal was tien meter lank en ses meter breed, en die ingang is bereik deur middel van tien trappe. Daar was pilare teen die mure weerskante van die ingang, een aan elke kant.

Esegiël 40