2 Samuel 13:19-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

19. het Tamar stof op haar kop gegooi. Sy het haar lang mantel geskeur, haar hand op haar kop gesit en sover sy loop, het sy geskreeu.

20. Haar broer Absalom het toe vir haar gesê: “Was jou broer Amnon by jou? Toe maar, my suster, bly nou maar stil. Hy is jou broer. Moet jou nie hieroor verknies nie.”Tamar het toe in haar broer Absalom se huis gaan bly en sy was 'n wrak.

21. Koning Dawid het van alles gehoor en hy was woedend.

22. Absalom het nie 'n enkele woord met Amnon gepraat nie, maar hy het hom gehaat omdat hy sy suster Tamar onteer het.

23. Twee jaar later was Absalom besig om sy skape te laat skeer in Baäl-Gasor in Efraim. Hy het al die seuns van die koning uitgenooi.

24. Hy het naamlik na die koning toe gegaan en gesê: “Ekskuus tog, ek gaan my skape skeer. Wil die koning en sy paleispersoneel nie miskien na my toe kom nie?”

25. “Nee, my seun, beslis nie,” was die koning se antwoord. “Ons kan nie almal gaan en vir jou 'n oorlas wees nie.”Ten spyte van sy aandrang wou die koning nie gaan nie, maar tog het hy hom voorspoed toegewens.

26. Absalom vra hom toe: “Kan my broer Amnon dan nie maar saamgaan nie?”“Waarom juis hy?” vra die koning.

27. Absalom het by hom daarop aangedring, en die koning het Amnon en al die koningseuns laat gaan.

28. Absalom het sy lyfwagte beveel: “Julle moet oplet: net as Amnon lekker jolig raak van die wyn, sal ek vir julle die teken gee. Slaan hom dood. Moenie bang wees nie: ek gee mos self die bevel. Pak hom. Moenie weifel nie.”

29. Die lyfwagte van Absalom het met Amnon gemaak soos hulle beveel is. Toe het al die ander koningseuns elkeen op sy muil gespring en gevlug.

30. Terwyl hulle nog op pad terug was, het die volgende gerug Dawid bereik: “Absalom het al die koningseuns doodgemaak. Daar het nie 'n enkele oorgebly nie.”

31. Die koning het van sy troon afgeklim, sy klere geskeur en op die grond gaan lê. Al sy onderdane het ook hulle klere geskeur en by hom kom staan.

2 Samuel 13